Musiekvideo: ‘Wys elke dag jou liefde vóór dit te laat is’

CheraLee. (Foto: Facebook)

“Die lewe is kort en die dag van môre is nie vir seker nie.”

Dít is die boodskap wat die musikant CheraLee in haar splinternuwe enkelsnit “As môre kom” wil oordra. Die rockliedjie en sy musiekvideo is pas uitgereik en herinner die luisteraar daaraan dat ’n mens elke dag voluit moet lewe.

“Ek en my man het vroeg in ons verhouding ʼn uitval gehad wat ons baie omgekrap het. Ek het my pa en stiefma genader vir raad oor hoe om dié situasie te red. Albei van hulle het hul vorige lewensmaats aan die dood afgestaan en die boodskap aan ons was om mekaar met respek te hanteer en elke dag ons liefde vir mekaar te wys,” vertel CheraLee.

“Hulle het ernstig met ons gesels en gevra dat ons moet seker maak dat ons nie oor klein goedjies baklei nie, maar om mekaar eerder elke dag te koester, want die lewe is kort.”

Luisteraars sal aanklank vind by die boodskap van “As môre kom” en dit is ook perfek om die litte mee los te maak op die dansvloer.

“Ek wil hierdie les met alle paartjies deel en hulle herinner om mekaar elke dag te koester asof môre nie gaan kom nie.”

In “As môre kom” se musiekvideo tree CheraLee saam met haar orkes op en is dit met ʼn storielyn van twee verliefdes verweef. Een van dié rolle word vertolk deur Xavier Saer, bekroonde fotograaf en liedjieskrywer.

CheraLee. (Foto: Facebook)

“Ek hoop ek kan sommer binnekort ʼn landswye toer saam met my orkes onderneem sodat ek al my oorspronklike liedjies reg oor die land kan deel. Totdat dit moontlik is, wil ek soveel as moontlik nuwe musiek probeer skryf en uitreik om luisteraars op te hef en te inspireer.”

CheraLee het in April verlede jaar haar debuutenkelsnit getiteld “So verkeerd” uitgereik. “So verkeerd” word steeds op radiostasies landwyd gehoor en die musiekvideo van die liedjie verskyn gereeld op kykNET.

Sy kom uit ʼn musikale familie en sê veral haar pa het haar in haar droom om musiek te maak ondersteun.

“Na bykans twintig jaar se betrokkenheid op die agtergrond van die musiekbedryf, het ek in 2017 vir die eerste keer ʼn kitaar opgetel en die besluit geneem om ’n sololoopbaan aan te pak.”

“As môre kom” is beskikbaar op alle digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.