Musiekvideo: AJ sing oor harte se roepstem

AJ se hart klop trots Afrikaans. (Foto: Verskaf)

Al is hy nou eers twee jaar in die musiekbedryf, trap die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer AJ de Vos reeds diep spore.

Hierdie veelsydige rasperstemsanger se nuwe musiekvideo vir sy jongste enkelsnit, “Hart roep hart”, is pas bekendgestel en die Afrikaanse Indie-toekenning vir beste nuweling-enkelsnuit pronk tans op sy trofeerak.

Dié hartroerende lied is uit die pen van Jody Mayhew en vertel die verhaal van emosies wat opduik wanneer jou hart en kop nie saampraat nie.

“Soveel verhoudings het ʼn knou weg wat nie altyd gered kan word met die woorde ‘ek’s lief vir jou’ nie. Dit verg baie deursettingsvermoë en vertroue in mekaar. ‘Hart roep hart’ vertel die verhaal van harte wat mekaar moet volg, ongeag die uitdagings.”

Dié musiekvideo vertel die verhaal van ʼn paartjie wat besluite moet maak vir hulle toekoms en terselfdertyd besef dat ware liefde nie net gekoop kan word nie.

“Hulle klou aan mekaar vas en op die einde bring liefde hulle terug na mekaar toe,” verduidelik AJ.

“Hart roep hart” is deur Wintertrail Productions vervaardig en by die Rolling Waters-trouvenue in die Ooste van Pretoria verfilm.

AJ se eerste treffer, “Hier en nou”, is in 2021 uitgereik en volgens dié 34-jarige musikant is “Hart roep hart” die begin van ʼn nuwe loopbaanhoofstuk. Hy is tans ook in die ateljee doenig en werk hard aan sy derde enkelsnit.

Hy erken dat die plaaslike musiekbedryf hom geleer het om geduldig te wees en hard te werk vir dit wat hy wil hê.

AJ se nuwe musiekvideo is pas bekend gestel. (Foto: Verskaf)

“Ek glo dat musiek die beste oplossing vir enige probleem is en dat ek my lewensdoel daardeur uitleef. My toekomsplanne is om net myself te wees en my eie stempel op die bedryf af te druk.”

Benewens sy loopbaan wil dié gesinsman die beste eggenoot en pa wees. Sy vrou is immers die een wat hom destyds aangespoor het om sy werk as veiligheids- en gesondheidspraktisyn vir die verhoog te verruil nadat sy hom vir ʼn sangkompetisie ingeskryf het.

“Ek is so dankbaar vir my vrou wat nog altyd in my geglo het en my gehelp het om my drome te bewaarheid.”

Sy hart klop ook trots Afrikaans en hy put inspirasie uit kunstenaars soos Theuns Jordaan en Johnny Cash.

“Daar is vir my geen groter voorreg as om musiek te kan maak in my moedertaal nie. Ek sal ook graag nog eendag saam met iemand soos Jo Black wil werk.”

Familie, vriende en sy positiewe lewensuitkyk dien as hoofinspirasie vir sy musiek.

“Die lewe het sy kronkeldraaie, maar ook sy mooi. Dit is vir my belangrik dat mense besef dat dit nie ’n strokiesprent is nie en dat mens foute mag maak, solank jy opstaan en weer probeer.”

Kyk na AJ se nuwe musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul ·

Uitstekend, baie baie mooi muskiek van hierdie man, hy gaan nog ver kom in sy loopbaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.