Musikante by glansaand vereer

Dozi ontvang ʼn spesiale FAK-toekenning vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. (Foto: Verskaf)

Kunstenaars soos Dozi, Jan Blohm en Gian Groen is enkele van die musikante wat Donderdag tydens Vonk Musiek se erkenningsaand by die AfriForum Teater in Pretoria vereer is.

Die Musiek Paniek-aanbieder en RSG-omroeper, Carla Mackenzie, het saam met die sanger Stefan Jansen die program vir sowat 140 gaste aangebied.

Glanspersoonlikhede, bekendes en ander gaste wat dié eksklusiewe geleentheid bygewoon het, is met vingerhappies en akoestiese vertonings deur verskeie kunstenaars bederf.

Sangers Henning Joubert en TiNo het die program afgeskop met hulle weergawe van “Transkaroo” en gaste is later ook vermaak met optredes deur Willem van der Ryst, Gian Groen en Juan Boucher.

Die gehoor het ʼn voorsmakie geniet van ʼn nuwe duet tussen Jan Blohm en Ryno Velvet en is voorgestel aan nuwelinge Zaan Sonnekus, Vrede en Gift Matjila.

Die doel van hierdie geleentheid was om kunstenaars te beloon vir musiek wat sukses op stromingsplatforms behaal het en vir musiekvideo’s wat op YouTube ondersteun word. Kunstenaars het erkenning in vier kategorieë ontvang: goud, platinum, dubbel-platinum en multi-platinum.

In die kategorie vir enkelsnittoekennings het Twee en Juan Boucher goud ontvang vir hulle treffers “Ek sweer” en “Huisie in die bos”. Boucher en Blohm het elk vyf toekennings in hierdie kategorie gewen.

Jansen, Dylan, Wouter van de Venter en Virander is in die YouTube-kategorie vir hulle onderskeie video’s erken. Jan Rhaap en die sanger Frikkie het elk erkenning vir twee van hulle video’s ontvang, Jan Blohm is vir vyf video’s beloon en Boucher het skoonskip gemaak met 16 video’s wat onderskeidelik goud, platinum, dubbel-platinum en multi-platinum behaal het.

Daar is ook erkenning gegee aan kunstenaars wie se liedjies nommer een op radiostasies behaal het. Boucher, Blohm, Dozi, Morné, Herman Kleinhans, Jan Rhaap, Dylan asook nuweling Zaan Sonnekus is in hierdie kategorie erken.

Johan Janse van Vuuren het namens die FAK ʼn spesiale toekenning aan Dozi en Gian Groen oorhandig vir die positiewe bydrae wat hulle tot die ontwikkeling van Afrikaanse musiek lewer.

Nog ʼn spesiale toekenning, met die titel Groen Status, is aan Boucher en Blohm oorhandig vir hulle liedjies wat meer as 10 miljoen keer gestroom is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.