Oekraïne nootvas by Eurovision

Die Oekraïense orkes Kalush het die 65ste Eurovision-sangkompetisie met hul liedjie “Stefania” gewen. (Foto verskaf)

Die Oekraïense orkes Kalush het die afgelope naweek in Turyn, Italië, koning gekraai by die 65ste Eurovision-sangkompetisie met hul liedjie “Stefania”. Dit is die derde keer dat dié land die kompetisie wen. Die laaste keer was in 2016 toe Jamala met “1944” gewen het.

Nadat Kalush hul liedjie uitgevoer het, het hulle die miljoene kykers toegespreek en gesê: “Red Marioepol, red Oekraïne and help Azovstal”. Rusland is in Februarie uit die kompetisie geskop ná sy inval van dié land. Deelnemers van 40 lande het sake vanjaar uitgesing, met 25 wat ná twee semifinalerondes aan die finale aand deelgeneem het.

“Stefania” is oorspronklik as huldeblyk aan sy ma deur Kalush se voorsanger, Oleh Psiuk, geskryf, maar die liedjie het tydens die oorlog ’n nuwe gedaante gekry as ’n huldeblyk aan Oekraïne as dié groep se moederland.

Ofskoon Sam Ryder van die Verenigde Koninkryk (VK) die meeste stemme by die beoordelaars (jurie) ontvang het vir “Space Man”, het die kykerstemme verseker dat die oorloggeteisterde Oekraïne met die glasmikrofoontrofee op die podium staan.

Ryder het 283 punte by die jurie ontvang teenoor die 192 van Kalush, terwyl die Oekraïense orkes 439 kykerspunte gekry het teenoor Ryder se 183. Dit is die sestiende jaar in die kompetisie se geskiedenis wat die VK met die tweede plek tevrede moes wees. Spanje was vanjaar met ’n kortkoppie in die derde plek, gevolg deur Swede en Serwië wat onderskeidelik vierde en vyfde geëindig het.

Soos die gebruik sedert 1958, kan die wenner van Eurovision dié sangkompetisie die daaropvolgende jaar aanbied. Daar was nog net vyf keer wat dit nié gebeur het nie:

  • 1956: Switserland wen, maar dit vind in 1957 in Frankfurt, Duitsland, plaas;
  • 1959: Nederland wen, maar dit vind in 1960 in Londen, VK, plaas;
  • 1962: Frankryk wen, maar dit vind in 1963 weer in Londen plaas;
  • 1971: Monaco wen, maar dit vind in 1972 in Edinburgh, Skotland, plaas;
  • 1973: Luxemburg wen, dit maar vind in 1974 in Brighton, VK, plaas; en
  • 1979: Israel wen, maar die kompetisie word in 1980 in Den Haag, Nederland, aangebied.

Of die kompetisie wel in 2023 in Oekraïne sal plaasvind, is nog onseker, maar as dit van Kalush afhang, is dit gedane sake. “As ons wen, sal die Eurovision-sangkompetisie in 2023 in Oekraïne plaasvind. Dit sal ’n nuwe, geïntegreerde, goed ontwikkelde en florerende Oekraïne wees,” het die groep vasberade voor die finaal gesê.

Die bekendste voormalige wenners van die Eurovision-sangkompetisie is sekerlik Abba en Céline Dion. Abba het in 1974 vir Swede die trofee huis toe gebring met die bekende “Waterloo”. Dion, toe nog ’n relatief onbekende 22-jarige Kanadese sangeres wat nie ’n woord Engels kon praat nie, het op haar beurt in 1988 onder die Switserse vlag met “Ne partez pas sans moi” met enkele punte gewen.

  • Bykomende bronne: Eurovisionworld.com; New York Times en Screen Rant

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus W ·

Dis die tweede keer wat Oekraine wen, en soos met die eerste keer is dit n politieke besluit. Meriete het nie gewen nie, politiek het. Nou kan ons verwag dat hulle die NObelprys en wat nog ook sal wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.