Ontmoet ‘Mooi Jan’, die nuwe lid van Jan Jan Jan

Jan Jan Jan (Foto: Select Musiek)

Die musiekgroep Jan Jan Jan het aan die einde van 2019 naam gemaak met hul stywe broekies, tweekleur hemde en enkelsnit “Wys jou vleis”. Na hul groot sukses verwelkom Lang Jan en Klein Jan nou ʼn nuwe Jan in die groep – Mooi Jan.

Dulan Emslie (23), oftewel Mooi Jan, is ʼn kontrakteur van Krugersdorp. Hy was oorspronklik deel van Jan Jan Jan in hul eerste enkelsnit “Wys jou vleis”, waar hy die konsertina gespeel het. Die musiekvideo vir “Wys jou vleis” het reeds meer as 4,5 miljoen trefslae op YouTube gekry.

Nadat Jaco Pitzer, oftewel Fris Jan, besluit het om ʼn solo-loopbaan te volg, is Mooi Jan genader om die groep weer voltallig te maak.

Mooi Jan speel al konsertina vandat hy nege jaar oud is, en hy speel ook graag kitaar.

“Ek wou [as kind] net boeremusiek speel, ek wou nie enigiets weet van enigiets anders nie. Dit was boeremusiek of niks, maar darem het my musieksmaak al so ʼn bietjie gegroei sedertdien,” sê hy.

Lang Jan sê dit is vir hom opwindend om ʼn nuwe spanlid te hê omdat dit ʼn nuwe gees na die groep bring.

Mooi Jan (Foto: Select Musiek)

“Hy bring sy eie karakter en energie, en dis lekker vir ons want dit hou dinge nuut en vars en ons raak nie gewoond aan ou gewoontes nie. Dis goed vir ons,” sê hy.

Lang Jan skerts dat Mooi Jan al baie aandag gekry het sedert hy sy Jan Jan Jan-debuut gemaak het aan die einde van “Gooi mielies” se musiekvideo. Mooi Jan sê hy steur hom nie regtig aan al die aandag nie, maar dat hy moet bieg dat hy al baie boodskappe op sosiale media ontvang het sedert mense weet hy is die nuwe lid.

Die groep het ook reeds hul eerste enkelsnit saam met Mooi Jan uitgereik met “Gooi mielies”. Dié liedjie het binne een week reeds meer as 65 000 trefslae op YouTube ingeryg.

“’Gooi mielies’ is ʼn Afrikaanse boereliedjie, soos ons dit sal maak, maar met lekker ritme. Nie dat ons vorige liedjies nie ritme gehad het nie, maar ‘Gooi mielies’ is meer in die ‘doef-doef’-klas as ʼn mens dit so wil noem,” sê Lang Jan.

“Die liedjie gaan oor hoe ons as Afrikaners hou van braai en kuier en tyd saam met ons mense deurbring.”

Klein Jan sê “Gooi mielies” dra ook die boodskap dat dit nie saak maak van watter deel van Suid-Afrika jy kom nie, almal kan lekker saam kuier.

“Dit bring ʼn ander kleur en rigting aan ons genre,” sê hy.

Jan Jan Jan beplan nóg nuwe musiek in 2021 uit te reik en hulle wil ook ʼn plan maak om by klomp stede en dorpe reg oor Suid-Afrika uit te kom om daar saam met hul aanhangers te kuier en musiek te maak.

Besoek Jan Jan Jan se Facebook-blad hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.