Van Twitter-grap tot SA se jongste musiekgroep

Klein Jan, Fris Jan en Lang Jan (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Dit het alles begin by ʼn foto van drie mans in kakieklere wat vroeër vanjaar op Twitter geplaas is, met ʼn onderskrif wat mense aangemoedig om aan ʼn kreatiewe naam vir dié nuwe “kletsrym-groep” te dink.

Naamvoorstelle soos Jan Direction, Die Kortbroekkêrels, Red Hot Chilli Pieters, Hendrik Lamar en Justin Bierpens het mense reg oor die land laat skaterlag soos wat die voorstelle in hul duisende ingestroom het.

Die drie mans in die foto, Riaan Venter, Jaco Pitzer en Heinrich Rautenbach, was destyds eintlik besig om hul lywe model te hou vir die klerereeks Boerboel, maar nou is hulle régtig die musiekgroep waarvoor almal gehoop het. En nee, hulle is nie kletsrymers nie, maar maak wel boeremusiek wat enigeen se voete sal laat jeuk, en boonop is hulle ook sag op die oog!

Die groep het besluit op die naam Jan Jan Jan vir hul musiekgroep, en is deesdae meer bekend as Lang Jan (Venter), Fris Jan (Pitzer) en Klein Jan (Rautenbach). Hulle het pas die musiekvideo vir hul eerste enkelsnit, “Wys jou vleis” bekend gestel.

Dié video het, nes hul foto, onmiddellik soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei en het reeds byna 400 000 trefslae op YouTube gekry.

Fris Jan vertel dat hulle die fotosessie gehad het om “PT-broekies mooi te laat lyk”. Hy sê Klein Jan was nie eintlik veronderstel om in die foto’s te wees nie, maar dat hulle nog iemand nodig gehad. Voor hulle hul oë kon uitvee was dit hulle drie, saam in ʼn musiekgroep.

Lang Jan sê hulle was eers op hul senuwees oor die foto wat so wyd versprei het, maar dat hulle nou goed voel daaroor, omdat dit hulle as ʼn groep bymekaar gebring het.

“Ná die foto het Boerboel se bemarkingsbestuurder besluit ons moet ʼn musiekvideo maak, en hy het die liedjie ook geskryf. Toe ons drie weer kyk; hier sit ons!” sê Fris Jan.

Wys jou Vleis

Klein Jan sê daar was baie naamvoorstelle wat mense gemaak het, waarvan hy gehou het, maar dat sy gunsteling “Die Afriforum Blues Band” was.

Dié groep wou aanvanklik die naam Jan Direction gebruik het, maar daar was komplikasies met Sony Music in die VSA. Hulle vertel dat Simon Cowell, wat ʼn deel van Sony Music besit, vir hulle gesê het dat hulle nie dié naam mag gebruik nie, omdat dit té naby is aan die gewese popgroep One Direction.

“Maar ons het toe op Jan Jan Jan besluit, want ons al drie ís Jan,” sê Lang Jan.

Jan, Jan en Jan was behoorlike bielies van die Bosveld toe hulle die musiekvideo vir “Wys jou vleis” opgeneem het.

Dié drie het in die koue wintermaande die Bosveld met kortbroekies ingevaar om dié skreeusnaakse video op te neem. En nou word dié video ook wyd en syd op sosiale media versprei.

Jan, Jan en Jan in die musiekvideo vir ‘Wys jou Vleis’ (Foto: skermgreep uit die video)

“Ons het nie verwag dat dit so goed gaan doen nie. Ons het die musiekvideo op ʼn Vrydag bekendgestel, ek het gedink ons gaan so 10 000 kyke teen die Sondag hê, maar dit was veel meer,” sê Klein Jan.

“Dit is wonderlik, want ons het ‘Wys jou vleis’ op dieselfde dag as ander, bekender, kunstenaars se liedjies bekendgestel, en ons het hulle ver verbygesteek. Ons hét ʼn verwagting gehad, maar nie naastenby só groot nie,” sê Lang Jan.

Vir Fris Jan is dit die lekkerste om te sien hoe mense hul liedjie geniet.

“Daai gevoel wat jy kry, om te weet jy is deel van ʼn liedjie en jy sien met jou eie oë hoe mense dit geniet en inneem en saamsing. Dit is die belangrikste. Dit is waaroor dit gaan, dit gaan nie daaroor om bekend te wees nie, dit gaan oor of jy vir mense iets gee wat hulle kan geniet.”

Hoewel ʼn suksesvolle sangloopbaan nie ʼn droom van die groep was nie, is hulle dankbaar dat dit oor hul pad gekom het.

Klein Jan, Fris Jan en Lang Jan (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Dit is so cool om betrokke te wees en om selfs net in die ateljee te wees toe ons die liedjie opgeneem het. Dit was vir my ’n belewenis,” vertel Lang Jan.

“En die musiekvideo was iets wat nie eens op my bucket list was nie, en nou is dit een van die beste goed wat ek ooit kon doen! Ek kan dit nie regtig beskryf nie.”

Fris Jan beaam dit en sê dit voel soos ʼn hoendervleis oomblik. “Ons het nie hiervoor gesoek nie, en om dan só iets te kry wat oor jou pad kom, is ongelooflik. Dit is iets waarvan ons ons kinders kan vertel,” sê hy.

Dié drie kan ook nie meer soos enige Jan Rap en sy maat in winkelsentrums rondloop nie. Jan Jan Jan vertel dat mense hulle veral herken as hulle al drie saam is.

“As ons nie kakieklere dra nie, gebeur dit nie so dikwels nie, maar as ons Boerboel-klere aan het, en veral as ons bymekaar is, herken mense ons maklik,” sê Frisjan.

“Ons dra almal in elk geval in ons alledaagse lewens dié klere,” sê Lang Jan. “Ons hoef nie ons persoonlike lewe te verander om by die idee van Jan Jan Jan te pas nie. Ek is in elk geval gewoonlik kaalvoet by die huis of in vellies en ʼn kortbroek.”

Daar is nog baie dinge in die pyplyn vir dié groep. Nou dat Jan en Alleman van hulle weet wil hulle graag ook ʼn album opneem en optredes begin doen. “Hierdie is maar net die begin,” sê Klein Jan.

“Wys jou vleis” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Foxi ·

Nou kyk mense…..hierdie drie manne kan maar in daai kortbroeke pous. Sexy….sexy en nogmaals net sexy. Daai bene…..genoeg gesê!

Pensioenaris ·

Mooi so Jan,Jan en Jan julle mag maar, gaan julle ook volg op vleisboek.

Liena ·

Jan, Jan, Jan die bielie van die bosveld. Jan, Jan, Jan wys hom want julle kan!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.