Philip Moolman sing vir medeveterane

Philip Moolman. (Foto: Verskaf)

Die sanger en akteur Philip Moolman is ná ’n musiekdroogte van ’n paar jaar terug op die musiektoneel met ’n enkelsnit getiteld “Twee jaar”.

Hy sing oor sy eie jare as dienspligtige en die militêre diensplig wat vir sommige mans van sy generasie steeds ’n rou wond is. Die liedjie is uit Moolman se eie pen en fokus op die positiewe aspekte van diensplig.

“Dié snit vertel die storie van die lekkerste tyd in my lewe wat ek nooit weer wil oorhê nie,” vertel die sanger en liedjieskrywer.

“Ek het doelbewus gekies om op die tong-in-die-kies-oomblikke te konsentreer, en van die slegte herinneringe te vergeet.”

Moolman het in die tagtigerjare bekendheid verwerf vir sy rol as Niel in die SAUK-reeks Sonkring, en hy vertolk “Twee jaar” op sy eiesoortige, kreatiewe manier – só al asof hy as akteur ’n karakter in sy eie liedjie geword het.

“Dié liedjie is deur my medeveterane geïnspireer. Ek het my eie, persoonlike dienspligervarings met dié van ander veterane saamgevoeg.”

Moolman, wat vroeër vanjaar te sien was in kykNET se Spoorloos 2, is nou ook ʼn ambassadeur vir die Veterane Bystandsfonds, ’n niewinsgewende organisasie wat veterane met kos, klere, behuising en mediese hulp bystaan.

“Die veterane lê my baie na aan die hart omdat ek self ’n veteraan is wat vir twee jaar die nasionale dienspligpad moes stap. Daar is soveel van ons wat gedurende dáárdie tydperk van ons lewe seergekry het, en wat nou nog sukkel met geestelike, emosionele, fisieke en geldelike verwonding.”

Philip Moolman. (Foto: Facebook)

Moolman het vroeër vanjaar in ’n onderhoud met Groot FM vertel dat dié bystandsfonds verlede jaar bykans 25 000 borde kos aan veterane in nood verskaf het en dat hulle daartoe verbind is om vanjaar 61 320 borde kos te verskaf.

“Ons subsidieer ook die verblyf en etes van sowat 60 veterane wat in private versorgingsoorde woon. Ons lewer ’n unieke diens wat ander organisasies nie kan doen nie, aangesien ons dié soort volgehoue ondersteuning bied.”

Hy gebruik sy rol as ambassadeur en mededirekteur van die organisasie om lede van die publiek bewus te maak van die bystandsfonds en daarom het hy ook die liedjie “Twee jaar” geskryf.

“‘Twee jaar’ is soveel meer as net ’n onthouliedjie; dit is ook ’n kuierliedjie met ’n treffende melodie en refrein wat nie net by veterane sal aanklank vind nie, maar ook by almal wat van luistermusiek met ’n oemf hou. Moet ook nie van die konsertina-klanke vergeet nie, wat die gevoel van kuier met ’n lag in die traan verder versterk.”

Vir meer inligting oor die fonds of om betrokke te raak as skenker, SMS die woorde “Twee jaar” na 31429 of besoek die webwerf by www.veteranebystandfonds.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan Seerot ·

Geagte Philip, ek ken nie jou musiek nie en ek sal nie eers jou stem herken nie. Ek bly so ver van SA af, alleen in die bos op ‘n plaas. Maar as jy vir die veterane sing, sal ek waaragtig jou musiek loop soek en daarna luister.
Daardie was wilde jare, en die elite magte het ons nie gespaar nie. Dit was soek en vernietig. Nou 40 jaar later is ek nie eers naastenby jammer oor al daardie dae nie, niks spyt oor wat ek gedoen het nie. Ek is OK. Sing voort onbekende vriend. Die ou manne het nog VASBYT.

Kobus ·

Philip Moolman het een van die aangenaamste sangstemme wat ek al gehoor het – pragtige resonansie; sommer net moeitelose talent. Hy moenie net af en toe liedjies skryf nie; hy moet die sangwêreld oorrompel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.