Propvol feesprogram vir Aardklop

Aardklop word vanjaar in Pretoria, op Potchefstroom en in Linden in Johannesburg aangebied. (Foto: Verskaf)

Vanjaar strek die Momentum Beleggings Aardklop se aanbod in Pretoria verder as teater: Die Voortrekkermonument word die feesterrein en hier kom kry jy jou skeut visuele kunste, diskoers, boekgesprekke, stalletjies, musiek en al die lekker feesdinge wat daarvan ʼn volwaardige Aardklop maak.

Aardklop word vanjaar ook op Potchefstroom en in Linden in Johannesburg aangebied.

Maak ʼn draai by die stalletjies by die Voortrekkermonument vir allerlei kunsvlyt, van klere tot juwele. By die kosmark kan jy kies en keur – hier is iets van elke smaak en geur. Geniet ʼn drankie saam met vriende by die kykNET-verhoog met musiek in die agtergrond.

Feesgangers kan uitsien na optredes tussen 12:00 en 22:00 op 7 en 8 Oktober deur Mathys Roets, Ruan Josh, Lee Scott, Janie Bay, Die Flooze, Jakkie Louw, Beeskraal en vele meer.

Kabous Meiring. (Foto: Cornél van Heerden)

Beeld & Boeretroos word 6, 7 en 8 Oktober soggens 09:00 by die Voortrekkermonument aangebied deur Elsa Esterhuizen en is ʼn geleentheid vir lesers en Aardklop-feesgangers om saam met senior redaksielede van Beeld oor ʼn koppie koffie deur die koerant te blaai.

Daarna kan die gehoor aanbly vir indringende gesprekke en diskoers om 11:00, aangebied deur kykNET se aktuele programme, In gesprek met Lourensa Eckard en Prontuit met Kabous Meiring.

In die daaropvolgende boekgesprekke word nie nét kragkrisisse, liefdesprobleme en reeksmoordenaars bespreek nie, maar Suid-Afrikaanse geskiedenis, of bloed regtig dikker is as water en die lastige vraagstuk rondom kinder- en jeugfiksie kom onder die loep.

Die bekende joernalis Freek Robinson gesels oor sy lewe, Susan Coetzer en Ivor Swartz vra mekaar uit oor geluk en geestesgesondheid en bekroonde skrywers Zirk van den Berg en Kirby van der Merwe kyk mekaar in die oë.

Alle gesprekke is gratis en word aangebied by die Netwerk24 Kroonsaal, Fort Schanskop by die Voortrekkermonument, Pretoria.

Drie van Aardklop se opspraakwekkendste gesprekke van 2021 is opgeneem en vanjaar het feesgangers wat dit verlede jaar misgeloop het, die geleentheid om dié opname te sien by die Die Kapel by die Voortrekkermonument in Pretoria en by die kykNET Laerskool Louw Geldenhuys Lapa in Linden, Johannesburg.

Die opnames sluit in ʼn Baie lang Whatsapp aan die Voortrekkermonument, waar digters, skrywers, dramaturge en meningsvorms genooi is om ʼn Whatsapp oor die monument te skryf en voor te lees: ’n ode, ’n herinnering, ’n mening.  Sommige bydraes was nostalgies, ander blatant krities.

Ander opnames sluit in Supper met die sotte en Wit man op ʼn slag.

Hou die webwerf dop vir meer inligting oor visuele kunsuitstallings by Fort Schanskop, met die Fiësta-bekroonde Dineke van der Walt as kurator.

Besoek die webwerf by www.aardklop.co.za en hou die kunstefees se sosialemediablaaie dop vir meer oor die feesprogram.

Betaling vir toegang tot die feesterrein is kontantloos, so onthou jou bankkaart vir ʼn maklike swiep of kliek om toegang te kry tot die terrein. Toegang is R50 en gratis vir kinders 12 jaar oud en jonger. Toegangskaartjies kan ook aanlyn gekoop word. Stalletjie-aankope is nie noodwendig kontantloos nie, maar toegang wel.

Parkering kos R20 per voertuig wat betaalbaar is by aankoms. Parkeer en bring elke dag hier deur, met vermaak vir die hele gesin.

Momentum Beleggings Aardklop se opwipfeesdatums en plekke:

Potchefstroom: Teater én ʼn feesterrein by die NWU Joolplaas vanaf 30 September tot 2 Oktober.

Pretoria: Teaterweek is van 30 September tot en met 9 Oktober, met feesterrein by die Voortrekkermonument van 6 tot 9 Oktober.

Linden, Johannesburg: Teater van 6 tot 9 Oktober.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.