‘Requiem’-konsert wil genees, vertroos met musiek

Vox Chamber Choir (Foto: Alet Pretorius)

“Die rouproses is dikwels nie ʼn mooi gedoente nie. Dit ontketen angswekkende, onbeheerbare en soms onbekende emosies wat ʼn mens buite beheer kan laat voel, maar musiek bied aan ons ʼn plek van veiligheid,” sê Anja Pollard, musiekterapeut en lid van die Vox Chamber Choir.

Pollard het met Maroela Media gesels oor die terapeutiese waarde van musiek en die rol wat dit in die rouproses speel. Dit is met die oog op Requiem, Vox Chamber Choir se eenmalige a cappella-program wat Vrydag in Pretoria plaasvind.

Talle studies het al bewys dat musiek ʼn positiewe uitwerking op ʼn mens se emosionele welstand kan hê. Dit word onder andere ook deur musiekterapeute aangewend om die rouproses op verskillende maniere te fasiliteer.

“Musiekterapeute gebruik doelbewus verskeie musikale benaderings en tegnieke om tydens die rouproses by mense se unieke behoeftes aan te pas ten einde emosionele uitdrukking en genesing aan te moedig.

“Buite die konteks van terapie, is dit besonders om te sien hoe mense natuurlik neig om musiek te gebruik in die hantering van hulle eie rou.”

Die waarde van musiek lê daarin dat dit help om verskuilde gevoelens te ontdek en dit skep ʼn ruimte om rou emosies, “wat ons andersins nie sou weet wat om mee te maak nie”, beter te verstaan en te hanteer. “Dit stel ʼn persoon in staat om waarlik te vóél en so dien dit ook as ʼn brug om liggaam en siel bymekaar te hou.”

Hoewel mense die proses van rou op verskillende maniere benader, is daar wel ʼn gedeelde begrip of verstaan daarvan tussen mense.

“Die meeste mense het op een-of-ander manier al verlies ervaar en gedeelde musiek het die vermoë om hierdie begrip tussen mekaar te verdiep tot ʼn vorm van helende empatie.”

Requiem, wat onder leiding van komponis-dirigent Franco Prinsloo aangebied word, handel oor die proses van rou en genesing. Hoewel dit ʼn swaar tema is, is die aanbieding allermins morbied of wroegend.

“Dit is ʼn diverse program wat ʼn pragtige voorbeeld is van hoe musiek ons verhouding met rou herdefinieer en wat self iets so moeilik soos die rouproses in gedeelde deernis en skoonheid kan omskep.

“Die musiek het ten doel om gehoorlede op ʼn introspektiewe reis deur die verskillende stadiums van die rouproses en verlies te neem ten einde genesing te fasiliteer en vertroosting te bring,” brei Pollard uit.

Requiem se program is saamgestel uit van Prinsloo se koorkomposisies van die afgelope dekade. Dit sluit ʼn aantal komplekse toonsettings van Latynse tekste in soos Sanctus (Heilig), Nunc Dimittis (Hooglied van Simeon) en Cantate Domino (Sing vir die Heer ʼn nuwe lied), asook hartroerende en eenvoudige toonsettings soos Totius se beryming van Psalm 139 (Deurgrond o Heer en ken my hart) en Seënbede. Prinsloo se uitgebreide toonsetting van Breyten Breytenbach se Ek sal sterf en na my vader gaan vorm ook deel van die repertorium.

Franco Prinsloo en die Vox Chamber Choir wen die toekenning vir klassieke snit van die jaar. (Foto: Maroela Media)

“Om te rou is ʼn baie persoonlike ervaring. Heelwat van die toonsettings wat ons uitvoer, het ek gekomponeer en aan familielede en geliefdes ná hulle afsterwe opgedra,” sê Prinsloo oor die samestelling van Requiem. Hy voeg by dat dit deel van sy eie genesingsproses gevorm het.

“Ek dink dit is belangrik dat ons as kunstenaars in terugskouing die proses van rou en uiteindelike genesing met die publiek deel. Dit beteken egter nie dat gehoorlede ná die konsert ontredderd sal voel nie. Musiek het altyd die positiewe boodskap dat daar hoop en vertroosting is.”

Requiem vind Vrydag 27 Oktober om 19:30 by die Nazareth House-kapel in Pretoria plaas. Kaartjies kos R150 (aanlyn by Tixsa) en R180 (voor die vertoning by die deur).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.