Resensie: Ballade vir ʼn enkeling en die jare daarna- Richard van der Westhuizen

Richard-van-der-Westhuizen

Richard van der Westhuizen. Foto: Richard van der Westhuizen se Facebookblad.

Baie akteurs het al besluit om ook sangloopbane te volg,  maar nie almal was noodwendig suksesvol nie.

Een van hulle wat wel daarin kon slaag om albei te doen, is Richard van der Westhuizen. Hy het aanvanklik, omtrent dertig jaar gelede, as akteur bekendheid verwerf vir sy rol in Die Mannheimsage, maar toe Leon van Nierop se treffer-reeks Ballade vir ʼn enkeling verfilm is, is hy gevra om die temaliedjie te skryf en te sing.

Nou is ʼn versameling van sy musiek wat sedertdien verskyn het uitgereik met die gepaste titel Ballade vir ʼn enkeling en die jare daarna en dit is toevallig vrygestel om saam te val met die uitreiking van die rolprentweergawe van dié gewilde televisiereeks.

Die eerste snit op die album is “Isabella”, een van die treffers van sy laaste album, Swerwerspoor. As daar een snit is wat baie beslis op hierdie album gehoort het, is dit “Tussen treine”. Nugter weet egter hoekom Richard se weergawe van hierdie liedjie saam met Gerhard Steyn ingesluit is; hoekom nie die een saam met Lochner de Kock, wat so ʼn groot treffer was nie? Daar is trouens geen snitte van Richard se album saam met Lochner op hierdie versameling nie; waar is “Die kinders van Afrika” byvoorbeeld?

“Stofpad” is ʼn lekker snit wat eintlik meer radiolugtyd verdien. “Twee sagte hande” is ʼn pragtige snit wat oorspronklik op die album Swerwerspoor was.  Die temaliedjie van Ballade vir ʼn enkeling is nuut opgeneem en dankie tog die belaglike elektroniese tromme wat op die oorspronklike weergawe was, is bokveld toe gestuur.  Die nuwe opname klink baie beter.

“Ballade vir ʼn vreemdeling” is ʼn heeltemal ander snit en dit was oorspronklik op die album Songs uit my binnesak. Dit is ʼn pragtige snit wat meer gereeld oor die radio gespel behoort te word.  Op “Die appels in jou nek” het Hanno van Heerden, die hoofsanger van ʼn Man soos Jan saam met Richard gesing. Hy het ook hierdie liedjie geskryf. Hanno is ongelukki g ʼn paar jaar gelede in die ouderdom van 30 jaar aan kanker oorlede.

“Wintersprokie” was oorspronklik deel van Vuurklip, Richard se tweede album saam met Lochner de Kock, maar Richard se solo-opname is vir die eerste keer op Tydloos, sy album saam met Gerhard Steyn, waarop albei van hulle ook ʼn aantal liedjies alleen gesing het, gehoor. Dit was ʼn groot treffer, en is ook al deur Laurika Rauch opgeneem.

“Genadewater” is nog ʼn snit wat meer radiolugtyd verdien het.  “Engelliedjie” was die temaliedjie van die televisiereeks Hart van staal. “Man van staal” was oorspronklik op die album Swerwerspoor; dit moes ʼn groter treffer geword het as wat dit was.  “Hier waar jy hoort” was die eerste snit op die album Songs uit my binnesak en Anneke Visagie het dit saam met hom gesing en mens kon dit gerus meer oor die radio gehoor het.

Een snit wat wel baie gewild geword het, was “Susanna”, die treffer vanaf die album Swerwerspoor. “My hart behoort aan jou” was die ander groot treffer op hierdie album en dit is maklik om te verstaan hoekom.  “Die viooltjies op Ouma se graf”, wat oorspronklik op Tydloos was, is nie so sentimenteel as wat ʼn mens dalk sou dink nie.

Richard het “Die klaaglied van Jeremia Broodryk” saam met André Swiegers geskryf en André het dit ook al opgeneem.  Die woorde is skerp en daar is eintlik min te kies tussen dié twee opnames. Hoe ook al sy, dit is een van die heel beste snitte op die album.  “Swerfliedjie” is nog ʼn uitstekende snit van Swerwerspoor en hier kom jy agter dat Richard eintlik ʼn besonder goeie liriekskrywer is.

“Onthou jy nog”, die korste snit op die album, is die enigste een wat nie oorspronklik Afrikaans is nie. Dit is deur die bekende Nederlandse sanger Herman van Veen geskryf. “Blou blou water” is een van die lekkerste snitte op die album. Die laaste snit is “Vuurklip”, oorspronklik die titelsnit van Richard se tweede album saam met Lochner de Kock. Richard het dit ook intussen alleen opgeneem en dit is sy solo-opname wat hier gebruik is.

Hoewel Richard dalk nie altyd soveel sukses met sy musiek behaal het as wat ʼn mens mag dink nie, kan daar hoegenaamd geen twyfel oor sy musikale integriteit bestaan nie. Richard maak musiek vir die liefde van die saak, maar dit beteken nie dat sy musiek ontoeganklik is nie. Enersyds kan hierdie album baie sterk aanbeveel word, veral vir diegene wat moeg is vir kommersiële musiek en na iets soek wat die toets van die tyd sal deurstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae