[Resensie] Ons gaan nou lekker dans – Volume 2

ons-gaan-nou-lekker-dans-2

Ons gaan nou lekker dans volume 2. Foto: Verskaf.

Nadat die eerste Ons gaan nou lekker dans-versameling ’n groot sukses was, is die tweede volume pas uitgereik, en weer eens is dit ’n kombinasie van plaaslike en internasionale treffers.

Die eerste CD begin met Black Eyed Peas se groot treffer “I gotta feeling”. Dan is daar ook “Heidi” van Kurt Darren en “Head over heels (You’re my first love)” van Touch of Class. Die volgende snit is ’n keurspel van Smokie se treffers; dié snit het in die laat 1980’s en vroeë 1990’s gereelde radiolugtyd gekry.

“Gangnam style” was seker die grootste dansgier van die afgelope paar jaar, en Snotkop se weergawe van dié gewilde treffer is hier ingesluit. Billy Ray Cyrus se treffer, “Achy breaky heart”, is een van daardie liedjies waarvan jy baie hou, of nie kan verdra nie. Andriëtte het die afgelope tyd ’n spul treffers gehad, en “Sewe oseane” is die een wat hier ingesluit is. “One last kiss” was oorspronklik ’n treffer vir Smokie se voormalige hoofsanger, Chris Norman, maar Clive Bruce het net soveel sukses met sy weergawe behaal en dit is die een wat hier ingesluit is.

BZN het 30 jaar gelede hul eerste werklik suksesvolle album in Suid-Afrika bekendgestel, naamlik Friends, en die treffersnit vanaf hierdie album was “Waltzing Maria”. Die Klipwerf-Orkes is al meer as vier dekades lank op die musiektoneel, en “Jaloers bokkie” is hul bydrae tot hierdie versameling.

Natuurlik moes daar ook vir die ouer luisteraars voorsiening gemaak word en baie mense sal bly wees dat “Hound dog” van Elvis Presley ingesluit is. Nog ’n kunstenaar wat bekend is vir “rock and roll” is Shakin’Stevens, en hy het “Oh Julie” self geskryf. Dit was trouens een van sy grootste treffers. Tina Turner is al van die 1960’s af op die musiektoneel, maar sy het eers in die 1980’s regtig gewild geword. “The best” was seker haar grootste treffer.

Die laaste twee snitte op die eerste CD was groot treffers in die 1990’s, maar daarna het dié onderskeie groepe van die toneel verdwyn; “Slave to the music” van Twenty 4 Seven en “Where do you go?” van No Mercy was maar twee voorbeelde van “one-hit wonders” van daardie tyd.

Die eerste snit op die tweede CD is “Angel eyes” van Michael Learns to Rock, wat natuurlik groot sukses in die laat 1990’s met die album Paint my love behaal het, maar daarna nog ’n paar treffers, soos hierdie een, gehad het.

Kurt Darren se tweede bydrae tot hierdie versameling is sy weergawe van Bles Bridges se treffer “I’m the eagle, you’re the wind”. Die volgende twee snitte was treffers in 1985, naamlik “Spanish Eddie” van Laura Branigan en “Ring of ice” van Jennifer Rush. Boney M het vir groot omstredenheid gesorg met “Rivers of Babylon” wat op Psalm 137 gebaseer was. Die kerk se amptelike standpunt was blykbaar dat ’n mens daarna kon luister, maar dat dit verbode was om daarop te dans. Gelukkig het tye verander.

Daar is min hedendaagse country-liedjies wat groot treffers in Suid-Afrika is, maar een daarvan was “Hillbilly rock, hillbilly roll” van The Woolpackers.

In die vroeë 1980’s was daar min oorspronklike Afrikaanse liedjies wat groot treffers geword het; Francois Hayes se komposisie “Osbraai op Kromdraai” was egter een daarvan. Electric Light Orchestra het klassieke en rock-klanke gekombineer, en “Rock and roll is king” was seker hul laaste groot treffer. Westlife het nie net ’n aantal oorspronklike treffers gehad nie; hulle kon nou en dan iets besonders van ’n bekende liedjie maak, soos wat hulle met Billy Joel se treffer “Uptown girl” gedoen het.

“Liewe Lulu” was Blackie Swart se eerste groot treffer; weer eens is dit een van daardie liedjies waaroor jy mal is of wat jy nie kan verdra nie. Snotkop se bydrae is ’n goeie weergawe van Roxette se treffer “Dangerous”. Modern Talking het ses albums in drie jaar vrygestel en die een treffer ná die ander opgelewer, maar hul gewildheid het mettertyd afgeneem. “Brother Louie” was egter hul grootste treffer en een van net ’n handjievol wat die toets van die tyd deurstaan het.

Fredi Nest se dood verlede jaar was ’n groot verlies vir die Afrikaanse musiekbedryf. Hy het nie net treffers vir ander kunstenaars geskryf nie, maar ook sukses as sanger behaal, onder meer met “Getoor”, een van sy grootste treffers. “Net die een vir my” het Nicholis Louw en Shine 4 se loopbane behoorlik op dreef gekry, en was ’n baie groot treffer. Die laaste twee snitte op die tweede CD kom uit die 1980’s.

Bucks Fizz het die Eurovision-liedjiekompetisie in 1981 gewen met “Making your mind up” en “Loverboy” van Billy Ocean was in 1985 byna drie maande lank in die nr. 1-posisie op Springbok Radio se trefferlys.

Soos gewoonlik is daar iets vir elke smaak in hierdie versameling, en daarom het jy amper niks anders nodig vir ’n lekker partytjie nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karma ·

Ai-jaai-jaai!!!! Nou praat julle mos – daai’s my musiek. Wag, ek hardloop hou Musica toe – sien julle later!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.