Riaan Grobler vat vyf vir gemeenskap, liefdadigheid

Riaan Grobler. (Foto: Riaan Grobler/Facebook)

Die radio-omroeper en sanger, Riaan Grobler, se jongste enkelsnit getiteld, “Vat 5”, is spesiaal ten bate van liefdadigheid geskryf.

Dié sanger is gereeld by liefdadigheidsprojekte betrokke en hierdie keer is die inkomste wat deur “Vat 5” gegenereer word ten bate van Solidariteit Helpende Hand.

Riaan het dié organisasie, wat dadelik ingestem het dat hy ʼn spesiale lied laat skryf en opneem, genader.

Die inspirerende snit is geskryf deur Rudi Claase, bekroonde liedjieskrywer en sanger, en handel oor om mekaar te ondersteun en om vir mekaar daar te wees.

Volgens Riaan het hy nie die lied gekies nie, maar die lied het eerder vir hom gekies. “Ek het geweet ek kan met my sangtalent iets teruggee vir die gemeenskap,” sê Riaan, wat ʼn hart vir liefdadigheidswerk het.

“Ons vat graag hande, ons vat graag vyf saam met Riaan Grobler en ons nooi ons gemeenskappe graag uit om saam met ons ʼn verskil te maak,” het René Roux, adjunk uitvoerende hoof van  Solidariteit Helpende Hand, gesê.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is die organisasie se jaartema “Hier’s my hand”.

“Die ‘Vat 5’-video wat ons nou bekendstel sluit baie daarby aan. Dit kom in kort daarop neer dat ons die hele gemeenskap benodig. Ons gee so bietjie van ons tyd, aandag, van ons menswees en ons gawes. So gee ons ook ʼn bietjie van wie ons is. ’n Gemeenskap tree vorentoe, ’n gemeenskap sê ‘vat vyf’ en hier gaan ons die toekoms tegemoet, nie alleen nie, maar saam met mekaar,” verduidelik hy.

Hoewel dit nie ʼn liefdesliedjie is nie, is dié goedvoelsnit en saamsing-liedjie ʼn oorwurm wat diep in mense se harte sal gaan lê.

“Dit is ʼn inspirerende lied wat jou hoop gee. Die melodie en verwerking laat jou met die emosie van hoop,” het Riaan gesê.

Vir “Vat 5” se musiekvideo het ʼn handjievol van Riaan se vriende en personeellede van Helpende Hand, asook ʼn klomp van Riaan se aanhangers, byeengekom om ʼn prettige video onder leiding van Liezel en Annelize van Picture Perfect Studios te verfilm.

“Dit is net ʼn klomp mense wat hulle hande in verf druk en dan ʼn groot hand op ʼn massiewe platform druk.

“Uit die lug sien jy dan hierdie massiewe hand vol kleure en dit weerspieël weer dat ʼn klomp hande saam ʼn verskil kan maak,” verduidelik Riaan.

Mit Mak Motors, wat hulle depot beskikbaar gestel het vir die verfilming van die video, het na die tyd besluit om die kunswerk te hou.

“Ons moet mekaar dra in maklike en moeilike tye. Ons moet bymekaar staan. Twee is beter as een. Een se min is vir ʼn ander te veel. Ons moet ʼn gemeenskap wees wat mekaar se harte dra en meer gee as wat jy vra. Dat jy kan gee, al is dit min en dat jy werklik mense se lewens kan verander deur net ʼn stukkie van jouself te gee,” sê Riaan.

Riaan, wat onlangs ook die enkelsnit, “En dan dans ons”, uitgereik het, sê sy toekomsplanne sluit in om aan te hou sing, aanbiedingswerk te doen en te skryf. Hy verklap dat hy onlangs ʼn roman geskryf het wat teen die einde van die jaar op die rakke sal wees.

Meer oor die kunstenaar

Riaan Grobler is ʼn plattelandse kind en het van kleins af gesing, nog voordat hy kon praat. Sy liefde vir musiek is gekweek deur tannie Les Swart, die Groblers se buurvrou, wat dag in en dag uit saam met Riaan na plate geluister het.

Riaan is die afgelope 17 jaar professioneel werksaam in die musiekbedryf. Sy debuutalbum is in 2006 uitgereik.

Riaan is ook ʼn radio-omroeper wat daagliks op Pretoria FM te hoor is. Hy is sedert 17 September 2005 op die lug.

Riaan het al saam met groot name in die bedryf soos Juanita du Plessis, David Fourie, Cindy Nell, Rinél Day, Nadia Beukes, Werner Beukes en Jennifer Zamudio gewerk.

Hy sonder sy duet saam met Juanita du Plessis uit as een van die hoogtepunte in sy loopbaan. Dié lied is baie na aan Riaan se hart, want dit het baie vir sy oorlede ma beteken.

Vir Riaan is dit belangrik dat musiek betekenis moet hê. Hy sing vir die ouer mark, aangesien hy glo die ouer mark wil geïnspireer word.

Hy beskryf sy stem en styl as lekkerluister-musiek met goeie melodieë en mooi lirieke met ʼn kommersiële aanslag.

Riaan het geleer dat die musiekbedryf nie ʼn maklike bedryf is nie, en dat jy meer as net passie en talent nodig het om suksesvol te wees.

Hy werk tans aan nog ʼn enkelsnit wat later vanjaar uitgereik word en aan ʼn TV-program waarvan hy die mede-aanbieder en vervaardiger is.

Riaan was benoem vir vier radio-toekennings waarvan hy twee gewen het, onderskeidelik vir beste multi-platform program en die Sterre in ons gemeenskap-veldtog se beste omroeper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.