Riana Nel vier Verpleegsterdag met oorspronklike liedjie

Riana Nel. (Foto: Facebook)

Vir Internasionale Verpleegsterdag wou Riana Nel, die geliefde Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer, iets spesiaals doen vir die gesondheidswerkers wat elke dag onverpoos veg terwyl die Covid-19-krisis wêreldwyd woed.

Nel vertel alles het begin by ʼn Facebook-plasing waarin sy gesê het sy sal vir mense verpersoonlikte liedjies skryf oor temas wat hulle vir haar gee. Sy lag wanneer sy sê soveel mense het liedjies aangevra dat sy later besluit het om dié plasing te verwyder.

Sy het onlangs 79 verpersoonlikte liedjies geskryf, waarvan “To all the front line workers” een is. “Die liedjie is om vir dokters, verpleegsters en ander mediese personeel dankie te sê en hulle te bemoedig. Die liedjie is op ʼn manier ook ʼn gebed,” sê Nel.

“Toe ek besef vandag is Verpleegsterdag het ek gevoel die liedjie is geskenk wat ek vandag vir hulle wil gee.”

Die sangeres, wat ook voorheen ʼn mentor op die M-Net-program The Voice SA was, sê sy raak gereeld emosioneel oor die temas wat sy aanraak deur die verpersoonlikte liedjies te skryf.

“Daar is byvoorbeeld ʼn paartjie wat ʼn liedjie wil hê vir hulle ongebore baba wat deur IVF verwek is, ʼn ander paartjie wat ʼn liedjie vir die baba wat hulle verloor het, wil laat skryf. Daar is mense wat vra vir herdenkingsliedjies en mense in die buiteland wat tans geskei is van familielede wat vir hulle families liedjies wil hê,” vertel sy.

Volgens Nel ontmoet sy haar gehoor nou vir die eerste keer op ʼn persoonlike vlak deur dié liedjies te skryf en regstreekse Zoom-optredes te doen.

“Jy kan sien hoe die kinders se speelgoed rondlê en vuurtjies wat brand – jy leer die mense só goed ken. Ons gesels land en sand terwyl ek koffie drink en soms sommer in my pantoffels sit en sing!” lag sy.

Skermgreep uit die musiekvideo.

“Ek sing gewoonlik voor hordes mense en leer ken niemand nie, en om mense nou so goed te kan leer ken, is kosbaar vir my. Dit laat my dink aan hoe belangrik die individu is en hoe mooi en kleurryk die mense en ons land is.”

Die musiekvideo vir “To all the front line workers” is deur Andrew Jedd vervaardig. Hy het ook mandolien en baskitaar tot die liedjie gevoeg. Die foto’s is verskaf deur Carly Symington.

“Dit is eintlik meer soos ʼn bediening vir my om hierdie liedjies vir mense te skryf. Met elke liedjie voel dit asof die Here met my ook praat. Die terugvoer wat ek kry, is die grootste beloning. Ek kry video’s van mense wat in trane uitbars, en vir ʼn oomblik voel ek deel van daardie familie. Boonop kon ek die situasie vir hulle beter of spesiaal maak,” sê Nel.

“Ek was so bang om dit te doen, en nou is dit die grootste, genotvolste ding vir my. Noudat ek soos Petrus uit die boot geklim het, sê die Here vir my: ‘Stap, dit is jou tyd.’”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.