Rooibos en Wijn se musiek is vir kosbare oomblikke

Rooibos & Wijn se nuwe enkelsnit, ‘Megan’. (Foto: verskaf)

Gaan sit solank die rooibostee aan die kook en skink vir jou gaste ’n heerlike glasie wyn of twee terwyl jy na “Megan”, Rooibos & Wijn se splinternuwe enkelsnit, luister.

JP van Zyl, die man agter die interessante musieknaam, het die liedjie geskryf en uitgereik. Dit lê al vir jare in Van Zyl se persoonlike argief. Hy het egter onlangs besluit om dit uit te reik en homself te verlos van die las wat dit op die ou end op sy skouers geword het.

Van Zyl het die liedjie vir iemand op wie hy deur jare van huisvriendskap verlief geword het, geskryf.

Guns was egter nie aan Van Zyl se kant nie, dit is juis die rede waarom die liedjie so lank gelê en stof gaar het.

“Ek het gevoel dat ek dit moes uitreik. Ek moes die pleister aftrek en myself ʼn bietjie verlos.”

Die liedjie het deur die jare heen in een ontaard wat met hartseer en teleurstelling vir Van Zyl gepaard gegaan het. Hy was verlig toe dit uiteindelik die klankgolwe tref.

“Dit was maar moeilik ook gewees. Ek wil dit so rou en eerlik moontlik hou, wat beteken dat ek elke keer wanneer ek die liedjie sing moet krap in daardie emosies.”

Hy hoop dat dié woorde, wat vir hom so baie beteken het, tuiste kan vind in mense se harte.

“As daar tien mense is wat aanklank daarby kan vind, is ek tevrede.”

Van Zyl verduidelik dat hy sy interessante verhoognaam gekies het bloot omdat dit vir hom gepaard gaan met lekker kuier, herinneringe en ervaringe.

“Dit is twee middels wat genesing, versagting en geluk bring. Wanneer ʼn mens sit en kuier, drink jy dikwels óf rooibos óf wyn.”

Hy het ook aanklank by die eg Suid-Afrikaanse aard van rooibostee gevind.

Van Zyl sing al van jongs af en tydens sy laerskooljare was hy voor in die koor. Hy het egter sy sangstem vir ’n groot deel van sy hoërskooljare laat stil word.

Ná skool het die musiekgogga hom opnuut gebyt, dit is tóé dat hy aan die skryf gaan.

Hy vertel dat hy as kind vreeslik rondgetrek het en in verskillende skole was. Hoewel hy nou in Pretoria woon, ag hy homself steeds ’n trotse Vrystater.

Wanneer hy nie agter die mikrofoon is nie, is hy in die landboubedryf doenig.

Vir Van Zyl is elke liedjie ’n nuwe reistog. Dit word aan mekaar gevleg deur verskillende ervarings, vriendskappe en kosbare oomblikke.

Twee van sy vriende, Freddie van Staden en André Visagie, vorm deel van Rooibos & Wijn se musiekgroep.

“Hulle is ongelooflike musikante en hul insette is waardevol wanneer die liedjies opgeneem word.”

  • Luister hier na “Megan”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.