Sangsensasie het land aan gons

TiNO (Foto: Klara Design & Photography)

Die TikTok-sangsensasie, TiNo, het pas die radiogolwe getref en die toekoms wink helder vir dié ambisieuse jong man.

TiNo, oftewel Tinotenda Singe (20), is in 2002 in Harare, Zimbabwe, gebore. As seuntjie het sy gesin na Suid-Afrika verhuis en hulle in die Wes-Kaap gevestig. Aan die einde van sy gr. 11-jaar koop sy ouers vir hom ʼn tweedehandse kitaar. Dié neem hy terug koshuis toe waar hy by die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal sy skoolloopbaan op die ou einde sou afsluit.

“Die skool het ʼn ongelooflike fondament vir my gelê wat akademie, geloof, sport en musiek betref.”

Hier het een van sy medekoshuisinwoners vir hom geleer hoe om kitaar te speel. Hierdie informele kitaarlesse sou uieindelik lei tot die begin van TiNo se musiekloopbaan.

Sy eerste enkelsnit, “Kateriena Malherbe”, het die ganse land aan’t gons gehad. Die akteur en sanger, Hennie Jacobs, het die liedjie geskryf. Dié se musiekvideo is in  Desember uitgereik, en het reeds duisende kykers gelok.

TiNo het ʼn heldeverering vir Jan Blohm, een van die pilare van die Afrikaanse musiekbedryf. Nooit sou hy kon raai dat dié rolmodel van hom die een sou wees wat vir hom ʼn plek in die bedryf sou gee nie.

Blohm het een van sy video’s wat hy op sosiale media gelaai het, beetgekry en aangestuur vir Vonk Musiek, die platemaatskappy waar hy tans musiek maak. Binne etlike weke is TiNo genader, wat die begin van sy musiekloopbaan teweeggebring het.

Hoekom juis Afrikaans?

Afrikaans en Afrikaanse musiek lê hom baie na aan die hart.

“Afrikaans is die taal waarmee ek min of meer grootgeword het. Ek was in ʼn Engelse laerskool en Afrikaanse hoërskool. Ek het ʼn liefde vir die taal gevind. Ek het verlief op die taal en op Afrikaanse musiek geraak.”

Blohm is ook die een wat hierdie liefde laat blom het. Tydens ʼn Afrikaanse les het die onderwyser Breyten se brief, gesing deur Blohm, gespeel. Dié lied het TiNo se hart behoorlik aan die klop gesit.

“Dis belangrik vir my dat die meeste mense wat na my musiek luister, aanklank vind by my liedjies. As ek mense gelukkig kan maak, is ek gelukkig.”

Dis vir die jong sanger belangrik om die wysheid van die ouer generasies te benut.

“Ek is hier om te leer by die mense wat al jare en jare in die musiekbedryf is.”

Nuus in Februarie

TiNo het op 1 Februarie verjaar, maar dit is nie wat vanjaar vir hom die belangrikste op dié datum was nie. Dis op dié dag dat die nederige dog talentvolle man die tien liedjies ontvang het wat later op sy album gehoor sal kan word.

Drie van die liedjies het uit TiNo se spreekwoordelike pen verskyn, ʼn indrukwekkende prestasie siende dat hy ʼn paar jaar terug vir die eerste keer sy hande op ʼn kitaar gelê het.

TiNo het skertsend opgemerk dat hy die opneemproses onderskat het.

“Ek het gedink dat mens die liedjies sommer vinnig kan opneem. Daar is baie tyd en moeite wat in elke liedjie ingaan.”

Die datum waarop die album bekendgestel sal word, is nog nie bekend nie.

Kyk hier na “Kateriena Malherbe” se musiekvideo:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leana ·

Ek moet sê die mannetjie mag maar sing en die liedjie Katrina Malherbe laat mens se voete sommer jeuk. Hoop hy bring nog baie sulke liedjies vir ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.