Sjarmante Emmanuel steel harte in blyspel

Emmanuel Castis by die Artscape-teater in Kaapstad. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Hy is veral bekend vir sy rolle in reekse soos Erfsondes en die sepie Isidingo, maar die donkerkopakteur en sanger Emmanuel Castis se hart was eintlik nog altyd op die verhoog.

Hy is tans te sien as die sjarmante Sam Carmichael in ʼn plaaslike produksie van die wêreldbekende musiekblyspel Mamma Mia! – wat ná ʼn reeks uitverkoopte vertonings in die Kaap van 14 April tot 9 Junie by die Teatro by Monte Casino in Johannesburg op die planke sal wees.

“Ek wil nie té veel weggee vir diegene wat dit dalk nog nooit vantevore gesien het nie, maar kom ons sê maar net dat ek gelukkig iemand is wat nie skroom vir blinkers en spandex nie,” vertel Emmanuel laggend aan Maroela Media oor die alombekende Abba-kostuums wat in Mamma Mia! te sien is.

“Dis mos deel van die pret en dié produksie loop behoorlik oor daarvan.”

Maroela Media het vroeër berig Sophie Sheridan se rol word deur Kiruna-Lind Devar vertolk, terwyl Gina Shmukler in Donna Sheridan se skoene te siene gaan wees.

Ilse Klink, wat destyds teenoor Emmanuel in Isidingo gespeel het, is die ondeunde Rosie, met Kate Normington wat die glansryke Tanya speel.

“Ek besef dit klink soos ʼn cliché, maar die hele rolverdeling is so passievol en energiek, want ʼn mens kan nie eintlik anders met ʼn produksie soos ‘Mammia Mia!’ nie. Ek het destyds teenoor Gina in ‘The Rocky Horror Picture Show’ gespeel en Kate het onlangs my ma in ʼn rolprent vertolk, so ons klomp ken almal mekaar en werk heerlik saam.”

Kiruna-Lind Devar en Emmanuel op die verhoog. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Hoewel hy nie gehuiwer het toe die geleentheid opduik om ʼn oudisie vir die rol van Sam af te lê nie, bieg Emmanuel dat hy aanvanklik bietjie die “spinnerakke” van sy musiekblyspelvaardighede moes afstof.

Sy laaste grootskaalse blyspel was 2013 se plaaslike produksie van Jersey Boys, wat later selfs na lande soos Suid-Korea getoer het.

“Ek weet dis nie speletjies om in só iets te wees nie en moes in die begin van ons repetisietydperk nog my tyd bietjie verdeel tussen ‘Mamma Mia!’ en ʼn rolprent. Ek dink nie ek sou kans sien daarvoor as ek dit nie iets groot en spesiaal soos hierdie was nie. Mens sê mos nie nee vir Abba nie?”

Die gogga het Emmanuel reeds op skool gebyt en het tussendeur sy werk as akteur vir die groot- en kleinskerm altyd ʼn groot liefde gebly. Daarbenewens toer en tree hy op as sanger saam met sy musiekgroep, Dalliance, by feeste en geleenthede.

“Ek dink dis hoekom musiekteater vir my so lekker is, want dit is ʼn samevatting van al my liefdes. Ek geniet ook vir Sam as karakter, want hy’s ʼn suksesvolle en gesofistikeerde man wat alles reg probeer doen in die lewe, maar tog is hy nog al die jare verlief op dieselfde vrou en wil sy droom om saam met haar te wees, verwesenlik. Die romantikus in my kan met hom vereenselwig.”

Tiaan Rautenbach, Emmanuel en Matt Newman. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Hy glo dat Mamma Mia! se wêreldwye gewildheid in die musikale trefkrag van Abba se musiek lê.

“Dié musiekblyspel vind aanklank by so baie mense, want Abba se musiek is van ʼn musikale én tegniese oogpunt af net belaglik briljant. Ek dink nie almal besef hoe geniaal hulle eintlik is nie. Ek ken ook nie ʼn enkele mens wat nie minstens een Abba-liedjie ken nie.”

Tog is dit volgens Emmanuel ook nie grappies om hul musiek met ʼn ensemble van sangers én choreografie soomloos te vervleg nie.

“Daar’s harmonieë en subharmonieë in liedjies soos ‘Under Attack’. My karakter het nou nie vreeslike ingewikkelde choreografie nie, maar in nommers soos ‘Waterloo’ moes ek maar mooi kophou, jong. Die spiere is nie almal meer wat hulle was nie,” skerts hy.

Hy hoop ook die sukses van die Kaapse speelvlak sal opnuut aan Suid-Afrikaanse gehore bewys dat plaaslike produksies kers kan vashou by hulle internasionale eweknieë.

“Dis ongelukkig die realiteit dat ons eie gehore soms neerkyk op plaaslike weergawes van internasionale produksies. Suid-Afrikaanse geselskappe word egter in die buiteland geloof, want ons het net ʼn ander vlak van energie en chutzpah. Ons bied wêreldgehalte-talent.”

Benewens Mamma Mia! het Emmanuel onlangs saam met die Oscar-wenner Viola Davis voor die kameras verskyn vir ʼn opkomende Amazon-aksierolprent getiteld G20.

“As daar ooit ʼn tyd was om die kunste te ondersteun, dan is dit nou – veral gegewe wat die wêreld en die vermaaklikheidsbedryf die afgelope paar jaar deur is. Ons verdien dit om vermaak te skep én om vermaak te word.”

  • Kyk hier na ons kuier agter die skerms by Mamma Mia!:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.