Video: Kom loer agter die skerms by ‘Mamma Mia!’

Kate Normington, Gina Shmukler en Ilse Klink in “Mamma Mia!” (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Byna 14 jaar nadat die gewilde musiekspel, Mamma Mia!, Suid-Afrikaanse gehore bekoor het, maak dit uiteindelik ʼn terugkeer – en dít met die oorspronklike Donna en haar Dynamos.

Dié opgewekte musiekspel, gevul met die bekende klanke van ABBA, het vroeër vandeesweek sy debuut op die planke van Kunstekaap (Artscape) gemaak. Die Kaapse been van die produksie kom op Sondag 7 April tot ʼn einde sodat hulle op 13 April by die Teatro in Johannesburg kan intrek.

“Sy is ʼn fantastiese karakter en ʼn wonderlike persoon om te speel vir iemand van my ouderdom. Sy is eg en sê wat sy wil, maar sy is ook gevul met verlies – sy is een van ons,” vertel Gina Shmukler, wat weer die leisels van ʼn karakter wat sy al goed ken, Donna Sheridan, opgetel het. Sy verskyn weer saam met Ilse Klink (Rosie) en Kate Normington (Tanya) op die verhoog.

“Toe ek die karakter 14 jaar gelede gespeel het, was ek nog nie ʼn ma nie. Om dit nou te doen, met ʼn kind, maak my interaksie met Sophie soveel anders omdat ek weet wat dit beteken om ʼn ma te wees,” vertel sy.

“Soos wat mens ouer word, begin jou vriendskappe soveel meer vir jou beteken. Daardie geskiedenis van vriendskap tussen Rosie, Donna en Tanya is net ongelooflik.”

Die regie van die produksie word deur Janice Honeyman behartig, terwyl Charl-Johan Lingenfelder sy terugkeer na musiekteater gemaak het om aan die stuur van die musiekregie te staan.

“Sover was dit ʼn wonderlike ervaring om hieraan te werk. Almal ken die musiekblyspel, almal het dit gesien en almal het verwagtinge, en om daardie verwagtinge nie net te bestuur nie maar ook te oortref, is besonder belangrik vir my,” het Janice aan Maroela Media vertel.

“Ons wil vir mense ʼn warm, menslike ervaring gee terwyl hulle Mamma Mia! kyk. Dit is nie net die liedjies nie, maar om die storie tussendeur te laat werk sodat mense hulself daarin sal kan raaksien.”

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die plaaslike talent wat in hierdie blyspel ten toon gestel word, staan veral vir Charl-Johan uit.

“Dit het ʼn tendens geword dat mense nuwe musiekblyspele in Suid-Afrika aanmekaarsit en dit dan laat toer oor die wêreld, juis omdat ons standaard so hoog is. Ons is absoluut wêreldklas in alles wat ons doen, van die tegnologie wat ons gebruik tot die talent.”

Carmen Pretorius, wat destyds die rol van Sophie Sheridan vertolk het, vorm dié keer deel van die produksie se ensemble en dien ook as instaanspeler vir Donna.

“Dit is wonderlik om weer hier te sit. Dit was my tweede produksie in my loopbaan, en ek was 20 jaar oud gewees. Nou is dit 13 jaar later en ʼn volsirkel-oomblik.

“Ons huidige Sophie is regtig wonderlik. Die mense gaan gek oor haar wees. Dit is een van daardie musiekblyspele wat net lekker is om te kyk vir die hele familie.”

Dit is vir Kiruna-Lind Devar, wat Sophie Sheridan vertolk, ʼn voorreg om deel van die produksie te wees.

“Ek kan dit nie eens verduidelik nie, dit is sover ʼn ongelooflike ervaring vir my. Dit val ook saam met my tiende jaar in die bedryf, en ek kan dit nie glo nie, ek is so geseënd.

“Ek het grootgeword met ABBA se musiek. Dit was daar in baie spesiale oomblikke in my lewe, en dis so vir baie mense. Dit is inspirerend, dit is lekker en dit is disco. ABBA se musiek is pure vreugde en ons het vreugde nodig.”

  • Mamma Mia! is vanaf 7 Maart tot 7 April by die Kunstekaap (Artscape) in Kaapstad te sien. Dit sal vanaf 13 April tot 26 Mei by die Teatro in Johannesburg te siene wees.
  • Koop jou kaartjies hier.

Kyk na ons kuier agter die skerms by Mamma Mia! hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.