Student begin orkes vir jong musikante

Marilize Diedericks is die stigter van die Gautengse Studenteorkes. (Foto: Verskaf)

ʼn Student van Pretoria wou so graag vir jong musikante die kans gee om saam musiek te maak dat sy in 2021 ʼn studenteorkes gestig het om juis dít te kan doen.

Die 19-jarige Marilize Diedericks vertel aan Maroela Media dat sy sowat ʼn jaar gelede besef het daar is ʼn leemte in die bedryf vir jong musici.

“Veral tydens die Covid-19-pandemie het geleenthede vir musikante om op te tree bykans tot stilstand gekom.

“Ek het toe die Gautengse Studenteorkes (GSO) begin om vir jongmense ʼn plek te gee waar hulle hul gedeelde passie vir klassieke musiek kan uitleef.”

Diedericks is van kleins af aan klassieke musiek bekendgestel. Afgesien van haar ma wat musiek by die Universiteit van Pretoria studeer het, het sy self op vyf begin musiek neem. Op sewe het sy die viool nader getrek en meer onlangs het die Franse horing en dirigeerlesse bygekom.

Vandag spog dié studenteorkes met ʼn dinamiese groep jongmense. Almal is tussen 14 en 23 jaar en die meeste lede was verlede jaar ook deel van die orkes.

Daar is boonop ook ʼn mengelmoes instrumente: van tjello, viool, tweede en altviool tot kontrabas, klarinet, tromboon en perkussie.

“Dit is my doel om ʼn platform te skep wat sal help om die klassieke musiekgemeenskap van Suid-Afrika ʼn hupstoot te gee. My droom is dat dit mettertyd sal groei en ʼn simfonieorkes word.”

Diedericks wil terselfdertyd vir gehore ʼn luisterryke ervaring bied wat hulle sal geniet en waardeer. “Die GSO probeer om hul luisteraars se lewe te verryk en hulle te herinner dat daar altyd hoop is.”

Die Gautengse Studenteorkes (Foto: Verskaf)

Sy verwerk self die meeste van die musiek om by die orkes te pas en een van die lede, wat ook ʼn komponis is, komponeer vir elke konsert ʼn nuwe stuk vir die orkes.

Op 25 November is die GSO by die AfriForum Teater in Pretoria te sien in Immergroen. Gehore kan uitsien na ʼn wye verskeidenheid van klassieke musiek wat onder meer melodieë uit The Sound of Music, ʼn Afrikaanse keurspel en Shostakovich se klavierkonsert nr. 2 (tweede beweging)(Engels: Shostakovich Piano Concerto No 2: 2nd Movement), insluit.

Die konsert se titel sinspeel op die tydloosheid van klassieke musiek, verduidelik Diedericks. “Net soos ʼn immergroen boom wat altyd groen blare dra, is musiek altyd daar as ʼn universele taal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Geluk met ‘n pragtige inisiatief! Mag julle GSO groot voorspoed geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.