Tarryn Lamb gee terug dié Kersseisoen

Tarryn Lamb (Foto: Facebook)

Tarryn Lamb sê Kerstyd is die beste tyd om terug te gee aan mense wat minder bevoorreg is as jy, en daarom is dit vir haar spesiaal om by Spar en Jacaranda FM se Carols by Candlelight op te tree.

Dié jaarlikse konsert bring ʼn groot gehoor byeen wat hul piekniek-komberse kan uitsprei en saam kan kuier.

“Kersfees is altyd ʼn lekker tyd van die jaar, die samesyn, om tyd saam met familie deur te bring, en om te ontspan. Ons sing oor die liefde en Christus,” sê Lamb.

Vanjaar sal Tarryn Lamb, Jo Black, Lira, Matthew Mole, Riana Nel, Rubber Duc, Early B, Roan Ash, Paxton, Joshua na die Reën, Swing City en die Soweto Gospel Choir in dié konsert optree.

Lamb sê dit is vir haar besonder spesiaal omdat geld en speelgoed vir kinders by dié geleentheid ingesamel word.

“Dit is so lekker vir my as jy ander kunstenaars kan vind wat dieselfde doel het as jy: Om terug te gee. Daarom voel ek so dankbaar vir hierdie konsert. Dit is goed om ʼn mens se platform te gebruik, nie om meer fokus op onsself te plaas nie, maar om die lig te laat skyn op ander. So kan ons ook ander mense inspireer om dieselfde te doen.”

Toegang tot die konsert is gratis, maar mense word aangemoedig om ʼn speelding saam te bring wat dan aan liefdadigheidsorganisasies geskenk gaan word. Kerse en sangboekies sal ook verkoop word en dié geld sal na Jacaranda FM se Good Morning Angels gaan.

“Ons almal wil Suid-Afrika ʼn beter plek maak, maar ons weet nie altyd waar om te begin nie. Dié konsert wys dat elkeen van ons ʼn verskil kán maak,” sê Lamb.

Lamb het ook pas ʼn nuwe Kersfees-album genaamd Kersfees saam met Tarryn Lamb bekendgestel. Daarin sing sy Kersfeesliedjies saam met onder andere Theuns Jordaan en Die Heuwels Fantasties.

“Daar is lekker Kersfees-treffers van Whitney Houston, Mariah Carey en Michael Bublé ook in, so daar is regtig ʼn ietsie vir almal,” sê sy.

Al die geld wat met die verkope van die album verdien word, gaan Lamb aan ʼn vroeë kinderontwikkeling-sentrum van haar keuse skenk. “Dit is my Kersgeskenk vir die jaar,” sê sy.

Spar se Carols by Candlelight saam met Jacaranda FM sal in Johannesburg en Pretoria plaasvind. Tarryn Lamb, Roan Ash, Swing City en die Soweto Gospel Choir sal by albei geleenthede optree.

Matthew Mole, Lira, Rubber Duc and Paxton sal ook deel vorm van die Johannesburg-konsert by St. Stithians College, terwyl Jo Black, Riana Nel, Joshua na die Reën and Early B Pretoria se konsertgangers by Loftus Versfeld sal vermaak.

’n Kinder-area met springkastele, gesigverf, speletjies en rolprente sal ook beskikbaar wees. Vir meer inligting besoek dié webtuiste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bolletjie Blom ·

@ Anoniem. Gaan luister gerus na haar musiek. Sy sing pragtig. Voorwaar baie talentvol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.