Totius inspireer kamerkoor se jongste werk

Vox Chamber Choir (Foto: Alet Pretorius)

“Deurgrond” is volgens Franco Prinsloo, komponis-dirigent van die Vox Chamber Choir, ʼn eenvoudige toonsetting waarin die digter die Skepper nie net vra om gegrond te word nie, maar om hulle werklik te deurgrond.

Dié lied is ʼn toonsetting van Totius se oorspronklike beryming van Psalm 139, en Prinsloo het spesifiek vers 5 en 12 gekomponeer.

“Totius se Psalmberymings bly wonderlike, liriese materiaal, en ek is dankbaar vir die gawe om aan een van sy berymings nuwe lewe met ʼn eietydse toonsetting te kan gee.”

“Deurgrond” se lirieke lui:
Deurgrond, o HEER, en ken die swart,
verborge dieptes van my hart;
of diep in my, waar U kan lees,
ʼn skadelike weg mog wees.

En lei voortaan my wank’le skrede
op die weg van eewge vrede.

Wanneer ek sê: “Die donkerheid
bedek my voor u majesteit,”
dan is die nag ʼn helder lig
wat my ontdek aan u gesig.

Vir U, Heer, is die nag se duister
soos die dag in glans en luister.
Deurgrond, o Heer, my hart.

Anja Pollard, ʼn musiekterapeut van Pretoria en lid van die koor, sê dit is die herkenbaarheid van gedeelde gevoelens en ervarings waarmee mense wat hierna luister, resoneer.

“Die boodskap word pragtig in die musiek en teks saamgevat. ‘U ken die swart, verborge dieptes van my hart’, is ʼn belydenis aan God oor ons menslike tekortkominge, maar ook ʼn stelling vol hoop en vertroue dat die mens intiem deur ʼn Skepperwese geken en verstaan word.

“Só gun hierdie komposisie ons ʼn gedeelde ervaring waar ons saam die skrikwekkendheid van die wêreld vierkantig in die oë kan kyk, en in dieselfde asem vertroosting, bemoediging en versterking kan beleef.”

“Deurgrond” vorm deel van Requiem, die Vox Chamber Choir se nuwe konsertprogram wat koorliefhebbers die geleentheid sal gee om meegevoer te word. Ludwig Bouwer van die One Big Room Studios het die lied se opname en klankversorging behartig.

Luister hier na “Deurgrond”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.