Twee nominasies vir Franco Prinsloo, Vox Chamber Choir

Die komponis Franco Prinsloo. (Foto: Yolandi Jacobz)

Koor-maestro Franco Prinsloo en die Vox Chamber Choir is die afgelope week in twee afsonderlike kompetisies vir hulle musiek benoem.

Franco, wat die klankbaan vir die kykNET-reeks Donkerbos gekomponeer het en wat deur die Vox Chamber Choir in Kaapstad opgeneem is, is vir ʼn Suid-Afrikaanse fliek- en televisietoekenning (Safta) benoem in die kategorie vir beste prestasie in oorspronklike musiek van ʼn TV-drama.

“Dis vir my heerlik en ʼn groot voorreg om musiek te kan komponeer wat Nico Scheepers se stories help vertel”, sê Franco, en voeg by: “Dit is ekstra spesiaal dat my geliefde Voxies die note op papier lewend kon maak. Ons is in ekstase oor die benoeming.”

Donkerbos het sewe benoemings ontvang, onder meer vir beste klankontwerp en beste TV-drama. Nico, wat die teks geskryf en die regie behartig het, is benoem in die kategorie vir beste prestasie in regie in ʼn TV-drama.

Vox Chamber Choir is ook vir ʼn Aitsa-musiektoekenning benoem in die kategorie vir klassieke snit van die jaar. Dit is vir hulle opname van “Wieglied” wat deel van die siklus Ghoera Liedere vorm.

“Dit is vanjaar die eerste keer dat die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings ʼn prys vir klassieke musiek toeken. Daarom voel ons uiters geëerd om vir Afrikaanse kunsmusiek benoem te word.

Vox Chamber Choir (Foto: Alet Pretorius)

“Dit is belangrik dat klassieke musiek óók erkenning kry, en Aitsa verdien ʼn pluimpie vir die inisiatief wat hulle getoon het,” meen Franco.

Kooraanhangers kan op Sondag 3 September na optredes deur die Vox Chamber Choir en twee gaskore, Hoërskool Eldoraigne se Eldo-Ridente en die Akademia-koor, by die sewende Vox-lentekonsert luister. Al die kore staan onder Franco se leiding.

Dié konsert vind om 15:00 in die Heldesaal van die Voortrekkermonument in Pretoria plaas. Kaartjies vir Sondag se lentekonsert is aanlyn op Tixsa beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.