Van Boererock tot Afrikaanse volksmusiek

kn_bravo_beeskraal_site

Foto verskaf aan Maroela Media

In 1998 het Charles Smidt die groep Beeskraal gestig as ’n alternatief vir die Afrikaanse musiek wat in daardie stadium gewild was. Daantjie Badenhorst het met hom gesels oor dié groep se musiek, asook dit waarmee hy tans besig is.

Charles vertel dat Beeskraal in hul studentejare ontstaan het; dit was sewe jaar sedert die Voëlvry-beweging en die enigste Afrikaanse rock-groep in daardie stadium was Akkedis. Daarby was dit ook ’n reaksie op die gewildheid van kunstenaars soos Patricia Lewis en Jurie Els. Volgens Charles het Valiant Swart, Koos Kombuis en Anton Goosen hulle geïnspireer om musiek te maak.

Hulle het op die Boererock-klank besluit omdat dit, volgens hom, eg Suid-Afrikaans is, ondanks die feit dat die konsertina en banjo wat hulle in hul musiek gebruik het, onderskeidelik uit Engeland en Ierland kom, en deel van Boeremusiek geword het. Hy erken dat hulle self nie geweet het wat hulle doen nie, en toe hy later aan die reeks Country hart saam met Juanita du Plessis gewerk het, het hy besef dat dit baie dieselfde as Cajun- en Zydeco-musiek is. Albei musiekvorme het in die suidelike Amerikaanse staat Louisiana ontstaan en twee instrumente wat prominent daarin voorkom, is ’n trekklavier en ’n viool.

Benewens hul oorspronklike komposisies, het Beeskraal ook al Afrikaanse woorde vir een of twee bekende liedjies geskryf. Die een waarmee hulle veral groot sukses behaal het, was “Plaasdorp”, op die wysie van Tom Jones se groot treffer “Green green grass of home”. Nog een waarvoor hulle Afrikaanse woorde geskryf het, was Kid Rock se treffer “All summer long”. Die radiostasie Jacaranda FM het hulle gevra om Afrikaanse woorde daarvoor te skryf as deel van ’n somerveldtog wat hulle van stapel wou stuur. Aangesien die Lynyrd Skynyrd-treffer ,“Sweet home Alabama”, wat deel van die oorspronklike weergawe vorm, in die bekende rolprent Forrest Gump voorgekom het, het Charles besluit dat dié rolprent die tema van die musiekvideo sou wees.

Charles volg nie noodwendig ’n resep wanneer hy liedjies skryf nie. Soos die sangeres Anna Davel sê, kom liedjies al meer na jou toe namate jy meer skryf. Hy skryf gewoonlik die melodie en probeer om by die refrein te begin, waarna hy die versgedeeltes daarby aanpas. Hy het al probeer om die lirieke eerste te skryf en dan te toonset, maar daardie liedjies is gewoonlik nie die sterkstes nie. Hy dink eerder dat die treffers die liedjies is wat hy die vinnigste geskryf het. Hy kan enige tyd skryf, en hy hou gewoonlik sy selfoon byderhand om enigiets waaraan hy dalk sou dink, op te neem.

Charles se betrokkenheid by die Afrikaanse Volksmusiek-album het saam met sy betrokkenheid by die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (die FAK) gekom. Hy het navorsing oor Afrikaanse volksliedjies begin doen en hoewel daar kunstenaars is wat dalk al liedjies uit die ou FAK-sangbundel opgeneem het, het niemand vantevore ’n hele album met hierdie liedjies vrygestel nie. Die vervaardiger van die album, Tertius Human, het gekyk watter liedjies by watter kunstenaars se stemme sou pas, en toe Charles hulle gebel het om te hoor of hulle sou belangstel, het almal ingestem. Hy beskou ’n paar snitte as hoogtepunte, veral Cordelia se vertolking van die Vrystaatse volkslied en “Die lied van jong Suid-Afrika”, waarop Chris Chameleon saam met die A-Minere, ’n koor wat uit die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria ontstaan het, sing. Volgens Charles het hierdie opname Chris in staat gestel om uit sy gemaksone te beweeg. Nog ’n hoogtepunt op die album is “Sporelied”, wat Jak de Priester geskryf het ter viering van die 85ste bestaansjaar van die Voortrekkers, en waarop Beeskraal saam met hom speel. Volgens Charles behoort “Die lied van jong Suid-Afrika” die volgende enkelsnit vanaf die album te wees.

Charles glo dat Afrikaanse musiek op die regte pad is, maar dat die mark oorvol is. Hy voeg by dat die dae van die kitstreffer verby is, hoewel dit dalk nog nou en dan sal voorkom. Hy dink dat mense eerder op soek is na musiek met integriteit en ’n boodskap.  Hy is hoegenaamd nie ’n voorstander van Eurovision se betrokkenheid by Afrikaanse musiek nie; hy beskou dit as ’n treffermasjien waarin daar geen sprake van kuns is nie. Hy voorspel ook dat kunstenaars al meer oor kultuurgrense sal saamwerk; hy is juis besig met ’n opname vir die SABC 2-program Jam Sandwich, waarin hy saam met Mandoza, wat ’n treffer met Nkalakatha gehad het, sing.

Benewens musiek, het Charles ’n ander voorliefde – klassieke motors. Volgens hom kom dit saam met die rock and roll-era. In hierdie stadium staan daar ’n aantal Fords in sy motorhuis, naamlik ’n 1957 Zephyr Merk 2, die jongste toevoeging tot sy versameling, ’n 1968 Zodiac V6 Merk 4, ’n 1970 Ranchero V8-bakkie en ’n 1975 Cortina 3,0 XLE. Die Ranchero is die enigste van hierdie motors met ’n outomatiese ratkas, omdat hy ’n handratkas verkies.

Charles is een van die min Afrikaanse kunstenaars wat as ’n ware musikant beskou kan word; daar is ongelukkig deesdae te min van hulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae