Video: Amerikaanse Camille se ‘Stiltetyd’ eerste op Maroela

Camille van Niekerk. (Foto: Facebook)

Camille van Niekerk se splinternuwe musiekvideo is vandag eerste op Maroela Media te sien. Die Amerikaanse sangeres het Afrikaanse gehore se harte en verbeelding aangegryp na sy haarself Afrikaans geleer het deur na dié taal se musiek te luister.

“Stiltetyd” is ʼn liedjie wat handel oor ʼn verlange na die Weskus, ʼn plek waarop Van Niekerk sê sy verlief geraak het toe sy verlede jaar saam met die bekende Afrikaanse musikant Gian Groen daar getoer het. Sy het tydens dié toer ook die geleentheid gekry om ʼn verhoog te deel met musikante soos Jan Blohm, Loki Rothman, Roan Ash en Ryno Velvet.

Die video, wat vervaardig is deur CoolerBox Brothers en Vonk Musiek, neem die kyker op ʼn reis na die Weskus. Die video is in Johannesburg geskiet. Saam met Van Niekerk op die reis is kitaarspeler Rudi Kleingeld.

“Ons raak ʼn bietjie verlore langs die pad en dan gooi ons uiteindelik die padkaart by die ruit uit en neem net die prag rondom ons in, hoewel ons ver van die kus af is,” vertel Van Niekerk.

“Stiltetyd” is beskikbaar op Van Niekerk se debuutalbum, Hier het ek jou gevind, wat eersdaags beskikbaar sal wees vir aankope.

Die titelsnit vir dié album asook die snit “Proteas op die tafel” is reeds in 2018 vrygestel. Albei dié snitte sal ook op haar nuwe album te hoor wees.

Camille van Niekerk het verlede jaar tydens haar besoek aan Suid-Afrika in die Maroela Media-ateljee gekuier. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die album bevat slegs Afrikaanse liedjies en van die snitte sluit ook Zoeloe in. Die snitte op die album is meestal klassieke Afrikaanse treffers soos “Skipskop”, “Op Blouberg se strand” en “Stuur groete aan Mannetjies Roux”.

Die Amerikaner het die heel eerste keer Suid-Afrikaanse gehore se aandag getrek met haar weergawe van die Afrikaanse Valiant Swart-treffer “Sonvanger”.

Dié 27-jarige donkerkop, wat in Kalifornië in die VSA gebore en getoë is, is met ʼn Afrikaanse man, Jaco van Niekerk, getroud nadat hulle jare gelede op skool ontmoet het. Sy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media albei Jaco se ouers is aptekers en hulle is in 2004 deur ʼn Amerikaanse maatskappy genader om daar te gaan werk.

Sy vertel sy het Afrikaans begin leer op haar wittebrood. “Ek en my man was op ʼn road trip en ons het baie tyd saam in die kar gehad. Hy het begin om my Afrikaanse frases en woorde te leer. Soos ons gery het, sou hy byvoorbeeld sê: ‘Ons ry op die pad’. Klein woordjies soos ‘berg’ en ‘kleure’ en ‘boom’. Aangesien ek ʼn sanger is, het hy gedink ʼn lekker manier om my te leer sal wees deur na volksliedjies te luister. Dit is waar dit begin het.”

Kyk hier na die video van “Stiltetyd”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.