Video: Andriëtte terug ná vyf jaar se stilte

Andriëtte Norman (Foto: Verskaf)

Andriëtte Norman het die afgelope vyf jaar twee kinders gehad, probleme met haar stem ondervind en ’n maatskappy begin wat geleenthede reël. Sy deel vandag haar musiekvideo vir haar liedjie “Druppel in die see” na dié vyf jaar se stilte eerste op Maroela Media.

“Druppel in die see” is die eerste enkelsnit in Andriëtte se langverwagte album Hartsland wat op 24 April bekendgestel word.

Sy vertel dat sy gedwing was om tyd af te vat omdat sy probleme met haar stem ondervind het.

“Twee jaar ná my vorige album het ek ʼn stembandoperasie gehad. My stem het net al hoe meer probleme begin gee, soveel dat ek later glad nie meer kon optree nie. Ná die operasie was ek veronderstel om na ses weke te herstel, maar toe het dit vir nog twee jaar gesukkel,” vertel sy aan Maroela Media.

Sy sê haar stem sou in dié twee jaar partykeer soveel beter word dat sy weer ʼn vertoning kan gaan doen, maar by tye sou dit so sleg wees dat sy ʼn vertoning in die middel moes stop.

“Ek het net aanhou hoop dat my stem weer sal reg kom. Dit was twee jaar van ʼn absolute gesukkel. Ek het baie gehuil en gedink ek sal nooit weer kan sing nie. Ek was baie negatief by tye en ek wou moed opgee. Maar met die hulp van my ouers en my man het ek bly aanhou.”

Andriëtte het vandaar die probleme met haar stem soos ʼn besering hanteer en geglo dat dit net tyd nodig het om herstel. Sy het vir sangopleiding gegaan en aan die begin van vanjaar het sy gevoel haar stem is weer terug in volle glorie.

Andriëtte Norman (Foto: Instagram)

“Ek is so dankbaar daarvoor, want ek het nie gedink dit sal gebeur dat ek weer op ʼn verhoog kan klim en met selfvertroue voor mense kan sing nie,” sê sy.

Andriëtte het sowat twee jaar gelede ook die maatskappy Andriëtte Norman Events begin. Sy sê sy hou nog altyd van mense, bederf en kosmaak, en daarom het sy besluit om in die tyd wat sy nie kon sing nie dié passie uit te leef.

Sy het ook twee seuntjies ryker geword, Graham (3) en Glynn (1). Sy en haar man, Glynn Moolman, is op 13 Julie 2015 getroud. Glynn het ook ‘n seun, Nathan, uit ‘n veroige verhouding.

“Ma-wees is die beste ding wat nog ooit met my kon gebeur. Wanneer jy ʼn ma word vir die eerste keer weet jy dis hoe ware liefde voel, en dan vir die tweede keer wonder jy of jy nog enige liefde oor het om te gee, maar jy maak net altyd genoeg plek in jou hart vir elke kind.”

Andriëtte en haar jongste seuntjie Glynn (Foto: Jana Engelbrecht Photography)

Sy vertel dat haar kinders van haar ʼn beter mens gemaak het en dat hulle haar leer oor die eenvoud van die lewe. Veral in die tyd wat sy nie kon sing en haar droom uitleef nie, kon sy te danke aan haar kinders die eenvoud van die lewe waardeer.

“Hulle is my grootste geskenk op die aarde,” sê sy.

Sy het wel nou gevoel dat die tyd reg is vir haar om terug te keer na musiek, nadat haar stem herstel het en omdat aanhangers haar aangemoedig het.

Andriëtte en Glynn saam met Graham en Nathan. (Foto: Instagram/Argief)

“Mense het na my toe gekom en vertel hoe van my liedjies hulle deur ʼn baie moeilik tyd gehelp het of deur ʼn situasie gedra het en dít is hoekom ek so graag wou terugkom en weer sing. Want op daardie manier voel ek ook of ek vir iemand iets kan beteken,” sê sy.

Andriëtte sê dit is wonderlik om uiteindelik weer ʼn album te kan uitbring. Sy sê dit het baie lank gevat om Hartsland op te neem, as gevolg van haar stem, maar dat sy aan die begin van vanjaar binne twee weke dit reggekry het om die album te voltooi.

“Ek het vir die eerste keer in hoeveel jaar weer skoenlappers in my maag toe ek ‘Druppel in die see’ kon uitbring. Dis lekker om weer so opgewonde te kan voel oor iets,” sê sy.

Hartsland is ʼn lekker album, dit gaan oor dinge van die lewe, dit gaan oor goed wat op my hart is en oor my lewe. Ek dink mense kan hierdie album sien wie ek is.”

Andriëtte Norman (Foto: Verskaf)

Hierdie album is Andriette se terugkeer na die heeltydse musiekbedryf en sy sê sy is oneindig dankbaar daarvoor.

“Ek dank die Here daarvoor, want hy is die Een wat my tot hier gehelp het en my moed laat hou het om tot hier te kom. Ek is baie dankbaar en opgewonde,” sê sy.

Hartsland is van 24 April op alle digitale platforms beskikbaar. Vir meer inligting besoek Andriëtte se Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris ·

Wat ‘n wonderlike voorreg om weereens ‘n nuwe lied van die dame te hoor. Soos telkemale van tevore is die een ook ‘n voltreffer. Sy het net die gawe om enige lied met daardie iets in te sing. Buiten haar stem dink ek haar persoonlikheid dra tot die sukses van haar loopbaan by. Sy sing met totale oorgawe en leef haarself in die musiek. Baie dankie, mag jy nog groter hoogtes bereik en ons nog langer eindlose plesier verskaf. Sterkte.

Gogabie ·

Nog steeds net so n mooi suiwer stem soos altyd, mooi van binne en buite. Go for it girl, jy is nog lank nie klaar nie. Sterkte met saai stem en pas hom soos goud op.

Kisnet ·

Sy het n wonderlike en unieke stem wat jy nie sommer elke dag hoor nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.