Video: Arno Jordaan se komiese kyk na jaguitstappies

Arno Jordaan saam met sy twee seuns, Milan en Luka (Foto: Verskaf)

Arno Jordaan is lief vir jag en die natuur, en hy wil dié liefde graag aan sy twee seuns oordra. Nou het hy sy liefde vir jag en musiek gekombineer deur ʼn tong-in-die-kies‑musiekvideo oor dié sportsoort bekend te stel.

Die liedjie “Jagtrip” is vir die eerste keer op Jordaan se album Kom ons doen dit bekendgestel en die musiekvideo van die liedjie het pas die lig gesien.

Dié bekende Afrikaanse sanger van liedjies soos “Derde Wêreldoorlog”, “Die eerste keer” en “Richterskaal”, sê “Jagtrip” is ʼn liedjie wat die ligter kant van ʼn jag-uitstappie raaksien.

“Gewoonlik is jagliedjies bietjie swaarder en dit is veronderstel om die hartsnare te roer, maar my liedjie bring die ligter en meer komiese kant daarby in. Daar is so baie negatiewe goed in die land aan die gang oor grondonteiening en plase, dat ek net iets snaaks en lig wou doen,” het Jordaan aan Maroela Media gesê.

Volgens Jordaan is die musiekvideo ʼn weerspieëling van wat op ʼn jaguitstappie gebeur.

“Mans wat vir hul vrouens vertel hulle drink nie, wéét wat op ʼn jaguitstappie gebeur. Die meisies in die video is darem nie regtig daar op ʼn werklike jaguitstappie nie, maar ons het dit net ingebring vir die komedie,” het Jordaan gesê.

Die sanger Fatman is ook in Jordaan se nuwe musiekvideo te sien.

“Dit is alles baie tong in die kies en Fatman sorg vir komedie. Ek wou net hê mense moet bietjie lag en nie so ernstig wees nie. Deesdae doen ek en my gesin eintlik familie-jaguitstappies. Ons gaan saam met ander gesinne en almal bring hulle kinders saam,” het Jordaan gesê.

Arno se jongste seun, Luka (Foto: Verskaf)

Jordaan het gesê hy jag al vandat hy op skool was en dat hy die liefde vir die sport graag aan sy twee seuns, Milan (5) en Luka (2), wil oordra.

“Ek wil help dat jag, en die Christelike waardes daarvan, voortbestaan. Jag is nog altyd in my bloed, en my seuns is ook mal daaroor. Dit is net iets wat jy nêrens anders kry nie; daardie kwaliteittyd saam met jou seuns op ʼn jaguitstappie,” het hy gesê.

Jordaan is betrokke by ʼn projek waar blinde mense op jaguitstappies geneem word en ook by Helpende Hand se #HelpJag-veldtog.

Die sanger sê hy is bewus daarvan dat jag ʼn sensitiewe onderwerp is, omdat almal nie saamstem met die sport nie, maar dat hy probeer om hom nie daaraan te steur nie.

“Ek weet mense is sensitief oor jag, maar ek is nie ʼn trofeejagter nie. Ek is op ʼn plek in my lewe waar ek nie meer so baie omgee oor wat mense van my dink nie. Dit gaan vir my meer oor wat ek vir my kinders wil leer en die tipe pa wat ek vir hulle is.

“Die kwaliteittyd wat ek deur jag met hulle kry, is baie spesiaal. En die goed waaroor ons praat is regte seuntjie en manne goed. My jaguitstappies is nie ʼn gedrinkery nie, maar eerder familietyd,” het hy gesê.

“Jagtrip” is ingesluit op Jordaan se vollengte album, Kom ons doen dit. Dit is aanlyn en op alle digitale platforms te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Carina ·

Luka is Arno se jongste seuntjie nie oudste(foto van klein Luka in berigl?

Anja van der Merwe ·

Dagsê Carina

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Hendrik UAE ·

Een ding wat ek regtig mis hier is die jagtrippies saam met kleinseun en vriende.”Manne dis n voorreg “om die natuur saam te beleef en te deel. Nou gaan die hardekool lied weer in my kop maal.AI!!!

Boer-in-die-Wind ·

Ek beskou jag nie as ‘n sport nie. Dit is deel van my kultuuruitlewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.