Video: Chanté se ‘Tragedie’ vol rou emosie

“Hierdie liedjie is geskep ná my eie liefdesteleurstelling, so dit is eerlik en vol rou emosie.” Só sê Chanté Retief, ʼn nuweling in die Afrikaanse musiekbedryf, oor haar debuut-enkelsnit, “Tragedie”.

Die musiekvideo vir “Tragedie” word vandag eerste op Maroela Media bekendgestel.

Die liedjie is geskryf deur Carlé Weber en Minke Brits en dit gaan oor die gevoelens wat jy ervaar wanneer jy deur ’n liefdesteleurstelling gaan.

“‘Tragedie’ gaan oor hoe jy weer moet opstaan nadat jy in ’n diep donker gat was en tree vir tree vorentoe moet beweeg,” verduidelik sy. “Hierdie liedjie is vir almal met ’n stukkende hart en ek hoop dit gee vir luisteraars die nodige krag om te kan aan beweeg.”

Chanté glo dat dié snit by ’n wye gehoor gaan aanklank vind.

“Ek dink ons almal het al een of ander tyd in ons lewe ’n liefdesteleurstelling gehad en nie geweet hoe om dit te hanteer nie. ‘Tragedie’ se boodskap is dat jy altyd weer kan opstaan, ongeag hoe hard jy geval het.”

Chanté vertel dat die musiekvideo vir dié liedjie die goeie en slegte tye van ʼn verhouding uitbeeld.

“’n Verhouding is nie altyd maanskyn en rose nie en die lewe is nie ’n sprokie nie. Ons het die eensaamheid uitgebeeld en gewys hoe dit omgeswaai kan word in krag en geluk,” sê sy.

Musiek is so lank as wat sy kan onthou vir haar belangrik en haar ouers kon haar nooit van die verhoog af hou nie. Sy sing al sedert sy ses jaar oud is en het deur die loop van haar skoolloopbaan aan verskeie kompetisies en konserte deelgeneem. Sy was ook deel van verskeie Rockwood-produksies reg oor die land.

Wanneer Chanté nie agter die mikrofoon is nie, gee sy heeltyds musiekopleiding by Studio-Cha in Centurion.

“Ek geniet elke oomblik daarvan om ander se talente te ontwikkel en hulle as kunstenaars te sien groei,” sê sy.

Chanté sê “Tragedie” is veral vir haar spesiaal omdat sy sing oor iets wat sy al voorheen moes deurmaak. “Wat dit uniek maak, is dat jy die emosie kan voel, juis omdat ek my eie ervaring deel,” sê Chanté.

“Liefde maak seer, maar dit maak jou ook sterker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.