Video: Elvis Blue maak harde harte sag met nuwe musiek

Elvis Blue. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

In die noordweste van Namibië, in die Kaokoveld, staan daar glo 37 lewensgrootte beelde van klipmanne versprei in een van die laaste ongetemde wildernisse van dié vasteland.

Dié kunsinstallasies het die sanger en liedjieskrywer Elvis Blue die idee vir sy jongste enkelsnit, “Hart van klip”, gegee.

Hy vertel in Maroela Media se ateljee hy het hom verbeel dat hy soos dié klipmannetjies is, en het begin dink oor hoe gebeurtenisse in die lewe ʼn mens se hart harder of sagter kan maak.

“Die liedjie handel oor hoe ʼn mens grootword en hoe dinge in jou lewe jou sagter of harder maak. Ongelukkig het baie dinge al met my gebeur wat my harder gemaak het,” sê hy.

Volgens Elvis raak die liedjie aan universele temas aangesien hy daarvan hou om lirieke te skryf waarby mense aanklank kan vind.

“Ek het al probeer om partytjiemusiek te skryf, maar niemand wil daarna luister nie,” vertel hy laggend.

“Afrikaans is so ʼn lekker taal om in te skryf. Afrikaans is hier, in hierdie plek waar ons woon. Ons het ons eie kos en ons eie dinge en dis werklik ʼn kultuur wat pragtig gevestig is. Ek wéét wie die Afrikaanse persoon is, want ek is een.

“Ek hou daarvan om te skryf oor temas wat aanklank vind by my mense.”

Elvis het tydens die inperking weens die pandemie ʼn koffiewinkel, Elvis Brew, naby die lughawe in George geopen. Dié koffiewinkel is nou so gewild dat dit binnekort as ʼn franchise uitbrei na Hartenbos.

“Ons fokus op Afrikaanse gemeenskappe wat hou van kuier en koffie. Koffie kan baie maklik ʼn verskriklike hoity-toity-storie raak en ons is glad nie dit nie. Ons hou net van vriendelike mense en mooi plekke. Ons kyk daarna om uit te brei na verskillende Afrikaanse gemeenskappe en hopelik is daar binnekort ʼn hele paar Elvis Brew-winkels reg oor die land,” sê Elvis.

“Ons het bier ook, hoor, as jy dalk ʼn slegte dag gehad het!”

“Hart van klip” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Kyk hier na die volledige video-onderhoud met Elvis Blue:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Die man is n ware voorbeeld van wat dit beteken om n goeie mens te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.