Video: Inspirasie van Spanje, strande en ’n vreemdeling

Abel Knobel (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Met die bekendstelling van Abel Knobel se jongste musiekvideo, “Meisie op die strand”, vier dié sanger sy tiende jaar in die plaaslike musiekbedryf.

Hy vertel dié liedjie is deur ʼn beeld op ʼn strand in Spanje geïnspireer. “Ek het die meisie in die verte sien sit en staar na die horison. Daardie prentjie het my aangemoedig om hierdie liedjie te skryf. Die lirieke is poëties en die boodskap wat ek wil oordra is eerlik. Ek glo dit gaan mense se harte raak.”

Nadat Knobel in 2016 klaargemaak het met die eerste seisoen van The Voice SA, was hy ses maande lank werksaam in Spanje in ’n kontrak om in hotelle op te tree.

“Ek was maar eensaam en hartseer en het boonop getob oor ’n langafstandverhouding wat ook nie uitgewerk het nie. Dit was al waaraan ek kon dink, en ek wou huis toe kom. Ek moes egter die kontrak voltooi.”

In dié tyd was hy op sy gelukkigste op die strand en dít was toe elke dag sy ontvlugting.

Oudergewoon het hy weer een oggend, op sy 25ste verjaardag op 29 September, met sy kitaar op die strand gaan sit.

“Ek was alleen en woorde kon nie die verlange vir my familie en vriende in die verre Suid-Afrika beskryf nie. Toe vang my oë ’n meisie wat so entjie van my af sit. Beeldskoon met lang blonde hare het sy naby die branders gesit en staar vir die horison. Sy was óók alleen en het lank net gestaar na die goue son wat die horisonlyn bekruip,” vertel Knobel.

Met die snit “Meisie op die strand” vier Abel Knobel ook tien jaar in die bedryf. (Foto: Verskaf)

Hy was nuuskierig, maar vertel laggend dat hy tot vandag steeds niks van haar weet nie.

“Ek sal haar egter altyd dankbaar bly vir die golf van inspirasie wat sy oor my siel laat breek het. Die wete dat ek niks van haar weet – of ooit sal weet nie – en ook dat sy nooit sal weet daar is ’n lied oor haar geskryf nie, is bittersoet. Ek glo tog dit is waar die krag van die lied lê.

“Hierdie lied trap dieper spore as enige ander een in my album. As liedjies kinders was, sou hierdie een sonder twyfel my oogappel gewees het. Ek wag al amper vyf jaar om ‘Meisie op die strand’ as ’n enkelsnit uit te reik en uiteindelik is die tyd reg.”

Knobel wil hê mense moet hulle kan vereenselwig met sy musiek. “As iets daarin hulle kan laat identifiseer met hul eie lewens, probleme of omstandighede, het ek my doel bereik. Ek wil met my musiek die effek op mense hê wat daardie meisie daardie dag op my gehad het.”

Die musiekvideo van “Meisie op die strand” se storielyn gaan oor dié meisie van Spanje en die inspirasie wat ’n vreemdeling kan bied.

Knobel het die eerste keer in die Afrikaanse musiekbedryf naam gemaak as lid van die elektropop mansgroep NRG. Hy het verder diep in harte gekruip toe hy deel was van Bobby van Jaarsveld se span op die realiteitsprogram The Voice SA.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.