Om vier bulletjies groot te maak én ʼn besige musiekloopbaan te bestuur is geen maklike taak nie, sê die sanger Jay du Plessis. Maar in dié lewe is daar weinig wat die sanger nié vir sy klein rugbyspannetjie sal doen nie.
Jay, pa van Aidan (10), Samuel (8), Luka (4) en Jamie (dié naweek een jaar oud), sê hy staan telkens in sy lewe oorbluf wanneer hy besef hoeveel hy in só ʼn kort tydjie geleer het by sy kinders, wat hy saam met Mia, sy vrou van byna ʼn dekade lank, grootmaak.
“ʼn Mens dink jy weet wat onvoorwaardelike liefde is, maar as jy kinders kry, verander dit jou persepsie oor liefde geheel en al,” vertel hy. “Jy kyk dan anders na die wêreld. Keer op keer besef ek hoe wonderlik dit is dat ek nou en in die verlede al soveel kon leer by kinders wat maar ʼn jaar of tien jaar oud is.”
Om vier woelwaters groot te maak is “georganiseerde chaos”, sê hy. “Ek was nog altyd ʼn geduldige mens, maar met my seuns het ek nog geduld geleer en heel moontlik ook die belangrikheid daarvan om geduldig te wees. Maar ʼn mens moenie kla oor bedrywige kinders nie; dis ʼn wonderlike ding as ʼn kind bloot net ʼn kind kan wees.”
Die sanger sê struktuur, dissipline en konsekwentheid is waarskynlik van die belangrikste faktore in die wyse waarop hy en Mia ouerskap aanpak.
Die sanger – as die pa van sy “eie rugbyspannetjie” – het ʼn paar ouerskapwenke met Maroela Media gedeel. Hy vertel onder meer in die video hoe hy maak met slaaptye, wat sy aanslag op dissipline is en watter lesse hy al by sy kinders geleer het.
Hou ook Maroela Media dop vir ʼn volledige ateljee-onderhoud oor Jay se album, So lank sal ek jou liefhê, waarin hy onder meer vertel oor sy onlangse Ghoema-toekenning en sy grootste passies.
Jy is voorwaar ‘n baie Geseënde man Jay; pragtige kinders en ‘n baie mooi vroutjie. Die Here is Goed vir jou.
Gooi hom in die son dat hy refs optel..