Video: Nuwe projek wink vir Snotkop

Snotkop. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die afgelope vier jaar het die treffermaker Snotkop ’n kameraspan gehad wat hom oral gevolg het, ’n projek wat later vanjaar ’n splinternuwe dokumentêr op Suid-Afrikaanse skerms sal word.

Dié rolprent sal in Desember vanjaar op die kassie te siene wees.

“Dit gaan nie net oor my nie. Die rolprent gaan oor mense wat ongelooflike dinge in die lewe bereik het, ten spyte van die moeilike omstandighede waaruit hulle kom. Dit is ’n motiverende, inspirerende dokumentêre rolprent vir die mense daar buite.”

Hy het skertsend bygevoeg dat aanhangers dan sommer ’n blik in sy lewe ook sal kry.

Snotkop wil met die nuwe projek mense uit alle ouderdom- en portuurgroepe inspireer om nuwe hoogtes te bereik.

“Daar is nie meer ruimte om in jouself te twyfel nie. Jy is nie sommer net per toeval op hierdie aarde gesit nie. Daar moet ’n rede wees hoekom jy hier is. Jóú werk is om uit te vind wat daardie rede is. Gewoonlik is dit om ander se lewens makliker en gelukkiger te maak.”

Oor ‘Tsek’

“As jy nie daarvan hou nie, vat jou goed en ‘tsek’, Ferreira!”

Só beskryf Snotkop sy splinternuwe enkelsnit “Tsek”.

Dié oorwurmlied het met die intrapslag op 10 Mei vanjaar die vyfde posisie van Maroela Media se Top-20 betree.

“Daar is nie meer tyd vandag om ’n ja-broer te wees nie. Ons generasie moet hande‑viervoet inspring en baklei vir wat hulle in die lewe wil hê. As mense nie daarvan hou nie – tsek!”

Hy bieg dat dié trefwoord ’n groot rolspeler in sy woordeskat is.

“Dit is wat Afrikaans so ʼn ongelooflike taal maak. Daar is nie ’n ander taal wat ’n omvattende woord soos ‘voertsek’ bevat nie. Ek is ’n aanhanger van die woord, en dan het hy nog ’n afkorting ook, tsek, wat dit soveel lekkerder maak.”

Snotkop verduidelik verder dat sy ligte liedjies dikwels ’n ernstiger ondertoon het.

“Staan op vir en glo in jouself. Vier jou individualiteit. Die tyd is verby waar mense in boksies moet pas. Mense dink dikwels dat my lirieke oppervlakkig is, maar daar is eintlik bietjie meer diepte daarin as wat die blote oog kan sien.”

Altyd aan die gang

Hy geniet die kreatiewe proses agter sy liedjies en musiekvideo’s vreeslik.

“Ek is bevoorreg om saam met ’n ongelooflike span by Sony Select te werk wat my handelsmerk só goed ken. Ek daag nie net op nie, ek beplan saam met hulle. Daar is ’n sekere styl aan my liedjies en musiekvideo’s. Dis wie ek as ’n kunstenaar is.”

Hy verduidelik verder dat dit vir iemand anders moeilik sal wees om vir hom musiek te skryf aangesien daar sekere kenmerke is wat met sy invloed gepaard gaan.

Snotkop en Ricus Nel sing die gewilde “Boerepompie” by Afrikaans is Groot 2019. (Foto: Henry Engelbracht)

“Dis vir my só lekker om deel te wees van die kreatiewe proses. Dis wat van my ’n kunstenaar maak.”

Verfrissende veranderinge in die bedryf

“Die hele bedryf het verander en gegroei. Ons is nou digitaal, daar is nie meer ’n fisieke produk nie; alles kan nou gestroom word. Ek dink dis fantasties.”

Hy is opgewonde oor die maklike en vinnige toegang wat mense nou tot sy musiek het.

“Mense hoef nie meer te wag om die CD in die winkel te gaan koop nie, hulle kan dit sommer dadelik aflaai. Suid-Afrikaners wat oorsee is, het onmiddellike toegang tot my musiek.”

Hy glo dat mense reeds gewoond geraak het aan die aanpassings wat die veranderinge teweeggebring het.

Weer op die verhoog

Die geweldige impak wat die pandemie op die bedryf gehad het, het nie net kunstenaarsoptredes gekelder nie, maar ook die gees wat in klein dorpies geheers het wanneer kunstenaars daar gaan kuier het.

“Ek dink nie mense besef watter groot rol die feeste in klein dorpies gehad het nie. Die geld wat daar ingesamel is, het na die kerke, paaie en skole gegaan. Dit was vir my vreeslik hartseer toe dit skielik stop.”

Snotkop (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Snotkop hoop om ’n spoedige terugkeer na kleiner verhoë te maak.

“Ek weet van baie feeste wat moes sluit en talle mense wat hul werke verloor het. Daar is byvoorbeeld ouer mense wat stalletjies by die feeste gehad het en heel jaar lank vir daardie fees gewag het.”

Hy vergelyk die afwesigheid van vertonings met ’n arm wat skielik afgesny is.

“As kunstenaar sit jy nooit stil nie. Jy is altyd iewers op die pad of op die verhoog – en ewe skielik het alles net gestop. Dit was ’n geweldige skok. Jou lewenslyn is skielik gesny.”

Sy raad aan jongmense in die bedryf is om matigheid voor oë te hou.

“As jy skielik sukses bereik, moenie mal gaan nie. Maak sakeondernemings oop, moenie onmiddellik vir jou ’n groot, fancy kar gaan koop nie.”

Hy is egter vreeslik opgewonde oor die vooruitsig om weer meer gereeld te kan optree.

“Mense is honger vir optredes. Dis fantasties om weer te sien hoe die dorpies lewe kry, en hoe mense na die vertonings toe stroom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.