Video: PJ Powers en Tygerberg-kinderkoor sing ‘World in Union’

PJ Powers (Foto: Kevin Mark Pass)

Die Suidoosterfees, die kunstefees wat die afgelope 17 jaar al in Kaapstad aangebied word, het vroeg in Mei in die slag gebly toe daar besluit is om dié fees weens die Covid-19-pandemie en die nasionale inperkingsmaatreëls tot verdere kennisgewing uit te stel.

In een van die vlagskipproduksies wat vir die 2020-feesprogram geskeduleer was, is ʼn optrede van PJ Powers en haar orkes saam met die Tygerberg-kinderkoor. Verskeie gemeenskapskore sou ook deelneem aan dié eenmalige massakoor-extravaganza wat in Kunstekaap aangebied sou word.

Met die feesdatum wat aangeskuif moes word, het die organiseerders saam met Vicky Davis en Schalk Joubert van die Cape Town Music Academy (CTMA) ʼn nuwe projek aangepak.

Die musiekvideo van PJ Powers se rugby-wêreldbekertreffer, “World in Union”, bring hulde aan essensiële werkers en wêreldwye pogings om die Covid-19-pandemie hok te slaan. Dié video huldig ook landsburgers se pogings tot selfisolasie en die gedissiplineerde wyse waarop hulle die inperkingsmaatreëls in dié uitdagende tyd gehoorsaam. Dié weergawe van dié liedjie is op 25 Mei ter viering van Afrika-dag gedeel.

Dié projek is die jongste van ’n reeks aanlyn inisiatiewe wat deur die Suidoosterfees in samewerking met feeskunstenaars onderneem is.

Klank- en beeldmateriaal van die video is tydens die inperkingsperiode opgeneem, terwyl kunstenaars in isolasie tuisgebly het. Naas Powers, haar orkes en die 35 kinderkoorlede, was Tigger Reunert, Schalk Joubert, Kevin Gibson, Lolo Rollins en Donveno Prins ook betrokke.

Die materiaal, wat in tuisateljees en op slimfone opgeneem is, is agterna deur professionele tegnici vermeng en geredigeer. In die musiekvideo verskyn daar ook beeldmateriaal en foto’s wat tydens die staat van inperking gepubliseer is, onder meer deur Die Burger, ’n borg en vennoot van die Suidoosterfees.

Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, sê dat die fees trots is op projekte wat saam met feeskunstenaars aangepak word.

“Ons oogmerk is om sosiale samehorigheid te bevorder. Met Afrika-dag se fokus op vooruitgang op die vasteland en die gemeenskaplike uitdagings waardeur ons in die gesig gestaar word, is dit paslik om die video uit te reik as dankbetuiging aan alle werkers wat essensiële dienste lewer,” sê sy. “Hierdie brawe mense staan aan die voorpunt van die stryd om ons almal teen die pandemie te beskerm. Ons salueer hulle as helde en hoop dat hierdie boodskap van hoop hul hande sal sterk.”

Johann Maarman, direksielid van die Suidoosterfees en eindredakteur van Die Burger, sê Afrika beweeg in die tyd van die koronavirus, net soos die res van die wêreld, op ongekende grondgebied.

Powers het dadelik ingestem om deel van die projek te wees.

“Ek was verheug toe dié virtuele projek die lig gesien het, aangesien die positiewe boodskap van ‘A World in Union’ in hierdie onseker tye meer toepaslik as ooit tevore is,” vertel sy. “Dié keer het ek dit benader met die gedagte van hoop en genesing. My wens is dat dit ’n plek sal vind in die nasie se harte terwyl ons dié onseker weg bewandel.”

Powers erken dat die virtuele werkswyse vir haar ’n nuutjie was.

“Om ’n hele koor op so ’n groot skaal te betrek was een van die opwindendste dinge waarby ek tot nog toe betrokke was. My persoonlike ervaring van die inperking is dat ek elke dag probeer om nie moed op te gee nie. Soms slaag ek daarin, ander kere nie.”

Tygerberg-kinderkoor (Robert Hamblin)

Karina Erasmus, dirigent van die Tygerberg-kinderkoor, vertel van die opwinding en uitdagings tydens die opnameproses.

“Die koor het dadelik die geleentheid aangegryp om saam met ’n Suid-Afrikaanse legende te sing. Ek het geen twyfel gehad dat die kinders ’n sukses daarvan sal maak nie,” sê Erasmus. Sy vertel ook dat die projek hulle die geleentheid bied om ’n boodskap van hoop aan die wêreld uit te dra.

Lede van die Tygerberg-kinderkoor meen dit was ʼn uitdaging, maar hulle hoop om ander mense te bemoedig.

Die 12-jarige Grace Hallet sê hoewel dit ’n uitdaging was, het hulle dit reggekry en sy voeg by dat haar ma ʼn groot rol in haar opname gespeel het. Carla Heydenrych (14) sê: “Dit was groot pret – al het die voëls gesing en ’n kat teen my been probeer opklim tydens die opname.”

Gomolemo Matlho (12) hoop die video moedig mense wêreldwyd aan om hul veiligheid eerste te stel, terwyl die 13-jarige Megan Lourens die eenheid benadruk wat musiek skep.

“Musiek raak ons almal aan die hart, en “World in Union” doen presies dit. Dit herinner mense oral in die wêreld dat daar hoop vir ons almal is,” sê sy.

Die Suidoosterfees het onlangs kragte saamgespan met die CTMA om soortgelyke projekte tot stand te bring. Een daarvan, David Kramer se #Tsekcorona-video saam met die geselskap van Kaapkreools, het binne ’n dag nadat dit uitgereik is, soos ’n veldbrand versprei.

Kyk hier na PJ Powers en die Tygerberg-kinderkoor se weergawe van “World in Union”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.