Video: Robbie en Appel vang Wêreldbeker-gees

Robbie Wessels en Appel in “Staan saam” (Fot: skermgreep uit die video)

Robbie Wessels en Appel se musiekvideo vir die lied “Staan saam” word vandag eerste op Maroela Media bekendgestel. Dié lied is geskryf as ʼn temalied vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi wat op 20 September in Japan afskop.

Dié duo sê hulle wil gees bou onder die land se mense, sodat almal soos een man agter die Springbokke kan staan wanneer hulle in Japan uitdraf.

“Dis ʼn goeie ding om patrioties te wees teenoor jou eie land, veral as dit kom by die Wêreldbeker. As die Bokke kan voel dat die land agter hulle staan, móét dit mos bydra tot hoe hulle speel, hul gees en hul wil om die Wêreldbeker te wen,” sê Robbie.

Robbie en Appel is albei kranige rugbyondersteuners, hoewel hulle vir verskillende provinsiale spanne skree – dit kom ook in die musiekvideo na vore. Robbie ondersteun die Cheetahs en Appel die Blou Bulle, maar wanneer dit tyd is vir die Wêreldbeker, verruil hulle albei hul onderskeie rugbytruie vir die Groen-en-goud.

GROOTboot-Robbie.jpg

Robbie Wessels (foto verskaf)

“Die liedjie is eintlik ʼn Blou Bul-en-Cheetah-roast. Dit is ʼn bekgeveg tussen twee hardebaard-rugbyondersteuners. Maar hulle kom ooreen dat wanneer die Bokke speel, hulle sal saamstaan,” sê Robbie.

Volgens Robbie is dit algemeen onder sy vriende dat diegene wat verskillende provinsiale spanne ondersteun mekaar partykeer aanvat. “Maar dit is alles in ligte luim. Daar is altyd grappies oor die ander span, dis eintlik baie pret en nooit te ernstig nie. Ek dink dit is gesonde kompetisie.

“Maar wanneer dit by die Bokke kom, vat ons dit ʼn tree verder. Dit is nie meer grappies nie; jy wil régtig hê hulle moet wen,” sê hy.

Die musiekvideo van “Staan saam” is gedeeltelik by Hoërskool Garsfontein in Pretoria geskiet. Robbie sê hy het ʼn goeie verhouding met die skool en dat hul skoolkleure goed ingepas het by die Bok-tema van die liedjie.

Robbie sê dit is nou ʼn gepaste tyd om die liedjie vry te stel omdat “Wêreldbeker-fever” al hoog loop in die land ná afloop van die Springbokke se gelykop telling teen die All Blacks op 27 Julie.

“Ek het amper ʼn hartaanval gekry toe Jantjies daardie laaste drie druk aan die einde,” sê hy. “Ek dink mense voel veral ná dáái oomblik die gees van die Wêreldbeker.”

Volgens Robbie het hy en Appel dieselfde soort humorsin, wat gesorg het vir baie pret tydens die opneem van die musiekvideo.

“Hy het ʼn baie spontane humorsin aan hom en ons vul mekaar goed aan, so ons kan lekker laf wees saam.”

Robbie Wessels en Appel in “Staan saam” (Fot: skermgreep uit die video)

Robbie verklap dat “Staan saam” op ʼn Rugby-album beskikbaar sal wees wat nét voor die Wêreldbeker vrygestel gaan word. Die naam van die album kon hy egter nog nie bekendmaak nie. Robbie sal saam met verskeie ander bekende sangers op die album sing, met die fokus op die 2019-Wêreldbeker-rugbytoernooi.

“Ek hoop mense luister daarna voor ʼn rugbywedstryd, of sommer al die Vrydagaand wanneer die manne begin opwarm vir die wedstryd van die volgende dag. Ek hoop mense luister daarna, sing lekker saam, en vang die gees vir die Wêreldbeker, sodat die Bokke kan voel ons staan bankvas agter hulle,” sê hy.

Kyk die musiekvideo vir “Staan saam” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.