Vox Chamber Choir gaan skitter by Groote Kerk

Franco Prinsloo (Foto: JP Hanekom)

Lig van waarheid, ʼn nuwe Afrikaanse Kersoratorium deur Franco Prinsloo, se wêreldpremière word op 27 November in samewerking met Vox Chamber Choir en die Kaapstad Filharmoniese Orkes by die Groote Kerk in Kaapstad gehou.

Liedtekste wat inspireer

Volgens Prinsloo, ʼn bekroonde komponis en dirigent van onder meer die Vox Chamber Choir en Akademia se universiteitskoor, het dié geleentheid hulle te beurt geval en dit was net te groot om van die hand te wys.

“In Suid-Afrika is daar so min orkeste van hierdie professionele gehalte. Toe die geleentheid hom voordoen om saam met die Kaapstadse Filharmoniese orkes te werk, het ons dit dadelik aangegryp.”

In Lig van waarheid word die verhaal van Jesus se geboorte deur koor- en solosang, ʼn strykorkes, twee trompette, celesta, perkussie, ʼn solo-fagot en orrel uitgebeeld.

Hierdie Kersoratorium se libretto is deur Prinsloo en die bekende bariton Chris Vale saamgestel en dit bestaan uit liriese berymings uit die Halleluja-sangbundel en die Koraalboek van 1956, asook enkele tekste uit die Sionsgesange van 1945.

Prinsloo vertel dat hy en Vale glad nie die oorspronklike melodieë in ag geneem het nie en dat nuwe, vars komposisies op gehore wag.

“Nadat ek opnuut weer die wonderlike liedtekste van die Halleluja-sangbundel en die ou Koraalboek van 1956 bestudeer het, het ek besef watter ongelooflike poëtiese waarde hierdie tekste bied.

“Ek het doelbewus liedtekste wat onbekend aan my is, begin versamel, spesifiek met die doel om die Kersoratorium te komponeer.”

Vox Chamber Choir (Foto: Alet Pretorius)

Om gedigte te toonset, is ʼn samekoms van twee van Prinsloo se grootste passies: musiek en digkuns. Sy liefde vir poësie het al tot die allermooiste toonsettings gelei en nie net in Afrikaans nie, maar ook in ʼn handvol ander tale.

Die resultaat van Prinsloo se vernuftige toonsettings vir Lig van waarheid is dus ou, soms vergete tekste wat nuwe lewe met kontemporêre toonsettings gekry het, en hy hoop dat die gehoor dit ook so sal ervaar.

“Hoewel die teks bekend klink, is die musiek totaal nuut, opwindend, meesleurend en inspirerend. Ek dink gehoorlede gaan verras wees oor hoe toeganklik die musiek is.

“Vir my is dit baie belangrik om musiek te komponeer wat nie net vir myself mooi en inspirerend is nie, maar ook vir ander.”

Vox Chamber Choir (Foto: Alet Pretorius)

Trilogie van oratoria

Lig van waarheid volg op die sukses van Prinsloo se Paasoratorium Kruis van liefde, wat in 2021 uitgevoer en opgeneem is. Die album is vroeër vanjaar vir twee Sama-toekennings benoem vir beste klassieke of instrumentale album en beste groep of duo-album.

Dit is wel nie die eerbewyse nie, maar lede van die publiek se oorweldigende positiewe reaksie wat Prinsloo geïnspireer het om nog oratoria te komponeer.

“Ná die uitsendings en konserte het mense van oraloor met my kontak gemaak met die mooiste stories oor hoe die musiek hulle diep geraak en tot hulle gespreek het.

“Dit is altyd ongelooflik om sulke terugvoer van gehore te ontvang. Ek het besef dat die verhaal nog nie klaar vertel is nie, en daarom het ek Lig van waarheid gekomponeer,” vertel hy aan Maroela Media.

Prinsloo voeg by dat dit uiteindelik deel van ʼn volle trilogie van oratoria sal vorm. Die derde oratorium, getiteld Kroon van Wonders, se libretto is reeds gedeeltelik deur die skrywer en digter Hans du Plessis geskryf, maar gehore sal egter nog tot 2025 vir dié uitvoering moet wag.

Vox Chamber Choir (Foto: Alet Pretorius)

Intussen kan Gautengse gehore naderskuif vir ʼn spesiale voorkonsert van Lig van waarheid wat op 20 November by die Universiteitsoord-kerk in Pretoria plaasvind. Die werk sal by hierdie geleentheid as ʼn weergawe aangebied word waar die strykorkes vir die orrel verwerk is.

Kunstenaars wat by die koor aansluit, is die bekende orrelis Isabelle van Rensburg, Magdalena de Vries (timpane), Richard Kingon en Alex Urban (trompette) en Esther Watkinson (fagot).

Kaartjies vir die wêreldpremière van Lig van waarheid saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes is by Computicket beskikbaar, terwyl kaartjies vir die voorkonsert in Pretoria by Tixsa beskikbaar is.

  • ʼn Back-a-Buddy-fonds is intussen vir Vox Chamber Choir gestig om geld vir Lig van waarheid se wêreldpremière in Kaapstad in te samel. Die geld sal gebruik word om vir koorlede se vlugte, akkommodasie en ander musikante se dienste te betaal. Klik hier om ʼn bydrae te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.