Wêreldbekroonde kamerkoor vier 18de bestaansjaar

Die wêreldbekroonde kamerkoor, Akustika Chamber Singers. (Foto: Verskaf)

Die wêreldbekroonde kamerkoor, Akustika Chamber Singers, bied op 20 en 21 Junie ʼn galakonsert ter viering van die koor se 18de bestaansjaar aan. Die konsert vind by die Nazareth House in Pretoria plaas.

Volgens Christo Burger, dirigent en stigter van die koor, kan gehore ʼn uiteenlopende program by die galakonsert te wagte wees met uitvoerings van onder meer “Let My Love be Heard” deur die Amerikaanse komponis Jake Runestad, en “O Frondens Virgaen” deur Hildegard von Bingen.

“Die repertorium is noukeurig uitgesoek en saamgestel om die gehoor op ʼn reis deur tyd te neem en hulle op ʼn emosionele vlak te inspireer. Van werke uit die Middeleeue en die Renaissance, tot opgewekte Amerikaanse geestelike musiek.”

Sedert Christo dié koor in 2005 begin het, het Akustika vele hoogtepunte bereik en aanhangers van koormusiek wêreldwyd meegevoer. Die groep se kenmerkende klank en uitbeelding van koormusiek het van die koorlede ʼn huishoudelike naam in Pretoria gemaak.

Akustika Chamber Singers beklee sedert 2010 die tweede plek op die wêreldranglys vir gemengde kore. Buiten die koor se hoogstaande bydrae tot die Suid-Afrikaanse koorwêreld, het Akustika ook heelwat samewerkingsprojekte in sekulêre genres.

Dit sluit die koor se samewerking met Nataniël in: Die Smitstraat Suite (2022), Afrikaans in styl (2022) en die kykNET-reeks Terwyl ek wag se temalied.

Akustika is intussen ook besig met voorbereiding vir ʼn internasionale koorkompetisie, Concorso Corale Internazionale Vox Lucensis, wat volgende jaar in Taskane, Italië, plaasvind. Die koor het vantevore met hulle deelname aan dié kompetisie as algehele wenners uit die stryd getree. Die oudisies vir 2024 se kompetisiekoor is nou oop en belangstellende persone kan Akustika se webwerf besoek om meer hieroor te wete te kom.

Luister hier na ʼn lusmaker vir die konsert:

AKUSTIKA gala concerts20,21 June 19:30 Nazareth House ChapelTickets: akustika.co.zaDesign by Linzay Coetzee for Duidelik

Posted by Akustika Chamber Singers on Wednesday, May 24, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.