Woordfees maak ruim program vir 2023 bekend

Die toneelstuk ‘Die moeder’ het verlede jaar vyf Woordfees Woordtrofee-pryse gewen. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Die Toyota US Woordfees het Donderdag die 2023-feesprogram boordensvol met musiek, teater, boeke, leefstyl, diskoers en rolprente bekendgestel.

Dié Bolandse fees vind vanaf 7 tot 15 Oktober in Stellenbosch plaas, en beloof om met die tema “borrel” feesgangers die geleentheid te gee om salig weg te dryf, maar ook om hulself uit te daag en nuwe perspektiewe te verken.

“Enersyds verwys ‘borrel’ na speelse bruising en drif; ’n swewende, dromerige gevoel; onskuldige kinderpret met seepbelle; en die lekker ou Nederlandse woord vir ’n partytjie waar die silwer borrels in Bolandse vonkelwyn graag geniet word,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Woordfees, oor vanjaar se tema.

“Aan die ander kant herinner dit ook aan Stellenbosch en die Universiteit Stellenbosch wat volgens sommige kritici en besorgde inwoners ʼn bubble is wat in bevoorregte ontkenning van die werklikhede van die groter Suid-Afrika leef. Hoewel ʼn borrel ʼn brose membraan het, ʼn weerlose grens wat kortstondig die verskil tussen binne en buite bepaal, is Stellenbosch se skeidslyne histories opgestel en finansieel verskans.”

Hier is ʼn kort oorsig van wat op feesgangers by vanjaar se Woordfees wag.

Die Toyota Musiekfees

Met 46 aanbiedings van stadiongrootte tot klein en intiem, kry jy alles van piekniekkonserte by die Van der Stel-sportgronde tot kabaret, uitgelate optredes met jazz, rock, rumba, hip-hip en pop.

Spoegwolf (Foto: Frits Visser)

Tussen die vier groot Van der Stel-piekniekkonserte is daar ʼn bekostigbare kaartjie vir elke kontemporêre smaak: Nagskof Vol. 1 (met Fokofpolisiekar, Desmond and the Tutus, Majozi e.a.), Spoegwolf, Uit volle Bosch (met Van Der Aven, Zaan Sonnekus, Gian Groen, Jan Blohm en Die Heuwels Fantasties) en Jol & Jive – WOW word 20! (met onder andere Tribal Echo, Temple Boys, Early B, Mango Groove en Dr Victor & The Rasta Rebels).

Ander musiekaanbiedings op die program sluit in Valiant Swart en Neil Sandilands se albumbekendstellings, en konserte deur Augusta Zietsman, Amanda Strydom, André Schwartz, Elsabé Zietsman, Luna Paige, Niël Rademan en Tarryn Lamb.

EasyEquities Skrywersfees

Boekwurms kan vanjaar kies uit 54 boekgesprekke waaraan 90 skrywers en verskeie meningsvormers gaan deelneem. Dit sluit onder andere Bibi Slippers, Eben Venter, Etienne van Heerden, Johann Rossouw, Jonny Steinberg, Marita van der Vyver, Pieter Odendaal, PP Fourie, Rudie van Rensburg, Sihle Khumalo en SJ Naudé, in. Die Weskusskrywer Sussie Kotzé se 90ste verjaarsdag sal ook tydens die fees gevier word.

Toneel

Op die toneelfront kan teaterliefhebbers uitsien na 37 aanbiedings, waarvan 13 debuutproduksies is. Bekende akteurs soos Antoinette Kellerman, Tinarie van Wyk Loots, Marlo Minnaar, Wilhelm van der Walt, Rolanda Marais, Wessel Pretorius en Cintaine Schutte is op die verhoog, terwyl teatermakers soos Philip Rademeyer, Mercy Kannemeyer, Janice Honeyman en Pieter Odendaal se werk opgevoer word.

Hoogsaangeskrewe produksies soos Die moeder, Master Class, Mirakel, Ver in die wêreld Kittie, Droomkraan-kronieke, Braam en die engel, Midsummer Night’s Dream en Hold Still is ook op die program.

Die Universiteit Stellenbosch se koor is die oudste en mees gevierde koor in Suid-Afrika. (Foto: Nanette Evenhuis)

Klassieke musiek

Daar is 23 konserte om van te kies wat ʼn ryke verskeidenheid bied ten opsigte van styl, aanslag en uitgevoerde werke. Van die wêreldberoemde Universiteitskoor Stellenbosch en ʼn viering van Rachmaninoff se 150ste verjaardag met Nina Schumann, Megan-Geoffrey Prins, tot ʼn orkes onder leiding van die jong dirigent Jacobus de Jager. Daar is ook Classical Calabash waarin jong komponiste met ʼn unieke vermenging van inheemse Afrika-instrumente, sang en klassiekemusiekkonsepte bekoor.

Leefstyl

Daar is meer as 50 aanbiedings op die Leefstyl-program wat bestaan uit ʼn wye verskeidenheid van lekker en interessante goed om te verken, eet, drink, leer en ervaar. Feesgangers kan gaan stap, draf, joga of met ʼn e-fiets ry, tuine kyk, kookdemonstrasies bywoon, argitektuurtoere meemaak en alles proe en geniet wat die wynlande en Stellenbosch se koskultuur te bied het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.