Wyndigters raak gesellig in liedjietuin

jako-meyer-deon-meiring-wyndigters.jpg

Die Wyndigters, Deon Meiring en Jako Meyer (Foto: Verskaf).

Die Wyndigters in die FAK Liedjietuin is ʼn intieme konsert waar die musiek, digkuns en stories van die kunstenaars Deon Meiring en Jako Meyer in ʼn gemaklike styl byeenkom. Dit terwyl vriende en geliefdes luilekker op ʼn piekniekkombers uitspan en hulle aan vingerhappies en die wyne van Van Loveren verlustig.

Deon is ʼn lid van die musiekgroep Glaskas, wat bekend is vir liedjies soos “Meneer”, “Verloor myself” en “Romantikus”, en hy tree ook as solokunstenaar op. Jako vorm deel van Moses Metro Man, wat bekend is vir liedjies soos “Mooirivier” en “Huigelaar”, en hy volg ʼn sololoopbaan.

“Ek en Jako is uiteenlopende kunstenaars en die musiek wat ons skep, is in baie opsigte verskillend. Tog is daar een ding wat ons saambind, en dit is ʼn liefde vir digkuns en om iets te skryf wat dieperliggende gedagtes verwoord,” vertel Deon in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Hy sê verder dat hulle graag met hierdie intieme konsert ʼn ruimte vir mense wil skep om deel te neem, saam te dig en volkome uiting aan ʼn dieper waardering vir woordkuns te gee.

Deon en Jako het een aand na ʼn vertoning waar Glaskas en Moses Metro Man opgetree het, gesit en kuier toe hulle met hierdie konsep vorendag kom.

“Ons het saam ʼn bottel wyn oopgemaak en diep gesels oor digkuns, musiek met betekenis, die onverwoordbare van die lewe en die liefde. So het ek en Jako aan ʼn teks begin werk met die doel om ons hunkering na kuns met gravitas met ʼn gehoor te deel.”

Die program is saamgestel uit bestaande musiek, gedigte wat Deon en Jako spesiaal vir die konsert geskryf het, en stories. Hulle deel die verhoog met ʼn paar kunstenaars wat vir agtergrondmusiek sal sorg terwyl daar gedigte voorgedra en stories vertel word.

Vier wyne van Van Loveren word sorgvuldig gekies om saam met die program te vloei. “Elke wyn het sy eie karakter en dit skakel baie goed by die verskillende temas van die aand in.

“Hoewel ons die konsert op Valentynsdag aanbied, gaan daar nie net oor romantiese liefde gesels word nie. Liefde gaan oor soveel meer as net dit. Ander temas wat ook betrek word, is onder meer vriendskap, godsdiens en geloof.”

Die Wyndigters in die FAK Liedjietuin vind op 14 en 15 Februarie om 19:00 plaas, en gaste kan al van 18:00 af begin om hulle eie piekniekmandjies en komberse uit te pak. Kaartjies vir die konsert kos R250 en dit sluit ʼn Van Loveren-wynproe, ʼn Maroela Media-beker en koffie in. Klik hier om kaartjies aanlyn op Quicket te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.