Zolani deel verhoog met Dozi, Anton Goosen; ‘Dis ʼn fees én voorreg’

Zolani Mahola. (Foto: Gary Van Wyk/Verskaf)

Sy is dalk klein van gestalte, maar Freshly Ground se voormalige hoofsanger Zolani Mahola is geen vreemdeling as dit kom by die verhoog deel met reuse in die Afrikaanse musiekbedryf nie.

Die engelstemsanger gaan vanjaar op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) kragte saamsnoer met nie een nie, maar twee legendes, naamlik Anton Goosen en Dozi, en sy beloof dat dit “eg en hartroerende weerspieëlings van Suid-Afrikaanse musiek” sal wees.

Op 23 Maart maak Zolani en Dozi: Die kort en die lank sy buiging op die fees en volgens Zolani, wat deesdae ook bekend is as “The One Who Sings”, kan gehore uitsien na ʼn intieme blik op beide kunstenaars se loopbane en lewensreise.

Die kort en die lank is seker heel gepas as jy sien hoe ons tweetjies langs mekaar lyk,” vertel Zolani laggend aan Maroela Media oor dié KKNK-produksie se tong-in-die-kies naam.

Sy beskryf hulle kreatiewe samewerkingsproses as “soomloos” en sê dat hulle as kunstenaars én mense dadelik ʼn sinergie met mekaar ervaar het.

Dozi en Zolani en saam op die ‘Ou Ryperd’-sanger se plaas gekuier. (Foto: Verskaf)

“Ek en Dozi was nog altyd bewus van mekaar, maar ons paaie het eers verlede jaar behoorlik gekruis met ʼn ander vertoning. Ek het hom nog altyd as hierdie ware Suid-Afrikaanse sanger geag omdat hy met sy musiek kultuurgrense kon oorsteek, en ek voel ons het met Freshly Ground iets soortgelyks reggekry.”

Dié twee musikante het verlede jaar saam tyd deurgebring op Dozi se plaas, en volgens Zolani was hul nuwe produksie ʼn natuurlike uitvloeisel daarvan.

“Ons kon net lekker saam gesels, musiek speel én skryf. Hy’s ʼn baie diep en outentieke mens en het ʼn diep verbintenis en respek vir en met die Zoeloe-kultuur. Dit maak my hart so bly as Suid-Afrikaners kulture omarm wat anders is as die een waarin hulle gebore is.”

Zolani het op haar beurt ook nou haar eerste vollengte Afrikaanse snit, “Uit die donker, in die lug” saam met die “Ou Ryperd”-sanger neergepen.

“Ons is albei verbonde aan die verskillende dele van wat dit beteken om ʼn Suid-Afrikaner te wees. Ons is beide boonop op nuwe lewensreise van introspeksie oor wat ons doel en pligte as kunstenaars is, en ek dink dit gaan wys in die tipe kuns wat ons nou saam geskep het.”

Benewens dié produksie deel Zolani vanjaar ook die KKNK-verhoog met onder meer Anton Goosen, Sonja Herholdt, Lise Swart, Schalk Joubert en Illimar Neitz in ʼn produksie getiteld Blommetjie gedenk aan my wat hulde bring aan die tydlose liedjies van die sogenaamde “Liedjieboer”.

Sy beskryf Anton as een van haar gunsteling- plaaslike kunstenaars en sê dat sy as ʼn selferkende taalliefhebber veral waardering vir sy skryfvermoë het.

Zolani is ʼn gereelde KKNK-kunstenaar. (Foto: Gary Van Wyk/Verskaf)

“Ek is so bitter lief vir hom. Hy is so gewild en geliefd, maar tog een van die nederigste mense wat ek ken. Vir iemand wat soveel invloed op die Suid-Afrikaanse musieklandskap het, neem hy homself ook nie te ernstig op nie.

“Om weer genooi te word om die verhoog met hom te deel, veral in ʼn hoedanigheid waar hy gevier word, is ʼn reusevoorreg.”

As ʼn gereelde KKNK-kunstenaar sê Zolani dat sy nog altyd omarm voel deur Afrikaanse gehore. Danksy die rustige en kuieratmosfeer van kunstefeeste is dit boonop een van haar gunstelingsoorte optredes.

Kunstenaars soos Dozi en Anton dien volgens Zolani ook as bewyse van wat vermag kan word wanneer mense hulself buite “mensegemaakte grense en kulturele norme” plaas.

“Ek het heeltemal begrip vir mense se vrees aan ʼn gevoel van verlies aan identiteit wanneer ons oor ʼn vermenging van kulture praat, maar ek hoop hulle sien dit eerder as ʼn geskenk. Geen taal of kultuur moet verlore gaan nie. Daar moet eerder bygelas word sodat ons land se diversiteit gevier en gereflekteer word in ons kuns.”

Benewens haar werk as musikant is dié ma van twee ook ʼn trotse ambassadeur van verskeie niewinsgerigte organisasies, hoofsanger van ʼn nuwe groep genaamd Feminine Force én in die proses om in ʼn nuwe musiekblyspel te speel.

“Ek is baie geseënd om ná al die jare nog so warm deur mense ontvang te word en glo dis belangrik om my platform te gebruik om positiwiteit te saai. Ek sien uit na ʼn vol en besige jaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wikkie ·

Sy kan blêrrie goed sing. Ek geniet Freshly Ground se musiek en ek waardeer Zolani se sangvernuf baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.