Aardklop: Opperman voer gehoor mee in ‘Ek wens, ek wens’   

Frank Opperman vertolk die rol van Seb in die solostuk “Ek wens, ek wens”. (Foto: Facebook)

In oomblikke van verwondering wens ons soms hardop: “Ek wens ek kon ook daardie duur motor bekostig”, “Ek wens ek kon ook op ʼn eilandvakansie gaan”, of dalk eenvoudig net “Ek wens ek was gelukkig”.

Dan is daar die wraakwense soos om iemand anders die ergste toe te wens wanneer die persoon jou te na kom of vies maak. Maar wat as dit regtig waar word?  ʼn Mens droom maklik hardop vir iets sonder om aan die uitkoms te dink.

As daar wel een ding is waarvoor jy vandag hardop mág wens, is dit vir kaartjies om na Ek wens, ek wens in die Atterbury-teater in Pretoria te gaan kyk.

Ek wens, ek wens is ʼn debuutsoloproduksie op vanjaar se Aardklop-opwipfees met Frank Opperman as Seb, ʼn lykbesorger wat ʼn grys, eenvoudige en ongelukkige bestaan voer.

Seb se lewe is een van roetine en kleinighede. Tot hy eendag ʼn engelagtige seuntjie, Gawie, ontmoet. Die magiese gevolge van hierdie ontmoeting noop Seb om te vra: “As ek net een wens het, waarvoor sal ek wens?”

Die stuk is geskoei op Zirk van den Berg se gelyknamige sprokie vir grootmense wat vanjaar met die WA Hofmeyr- sowel as die kykNET-Rapportprys bekroon is.

Met eenvoudige dekor, wat op die kubus-tema in die verhaal fokus, lewer Opperman ʼn puik vertolking in Ek wens, ek wens.

  • Ek wens, ek wens is Saterdag om 14:00 en 18:00 en Sondag om 18:00 in die Atterbury-teater in Pretoria te sien. Kaartjies kos R220. Bespreek by Ticketpros.co.za of besoek Aardklop se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karinb ·

Frank Opperman: Een van die groot name onder ons toneelspelers. So ‘n talentvolle akteur, ek salueer jou, Frank!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.