Hannes se ‘Sê groete vir ma’ eersdaags aanlyn te sien

Hannes van Wyk in ‘Sê groete vir Ma’. (Foto: Verskaf)

Die akteur en aanbieder Hannes van Wyk se teaterstuk Sê groete vir Ma het gehore reeds ʼn geruime tyd gaande. Dié stuk is eersdaags aanlyn te sien.

Van Wyk vertel dat hy graag die stuk meer toeganklik wou maak vir teaterliefhebbers op die platteland en kleiner dorpe wat nie gereeld die geleentheid kry om teaters te besoek nie.

“Ek wou dit ook graag toeganklik maak vir mense met gehoorgestremdheid en het besluit om ʼn opsie te gee vir onderskrifte. Wanneer ʼn mens bespreek, kan jy kies of jy met of sonder onderskrifte wil kyk.

“Daar was ook al in die verlede baie Engelse mense by my vertonings en ek wou dit ook toeganklik maak vir diegene wat nie Afrikaans magtig is nie,” verduidelik Van Wyk, ook bekend as aanbieder van die kykNET-joernaalprogram Kwêla.

In Sê groete vir Ma vertolk Van Wyk die rol van Reghardt Roberts van Aswegen, ʼn man wie se hele lewe, menswees en bestaan om die een vrou draai wat hom in die lewe gebring het – sy ma.

Die stuk vertel die storie van Reghardt se vormingsjare, ʼn sensitiewe kind wat op ʼn plaas moet grootword en die dinge van man-wees en man-word vinnig moet verstaan, sy pa, sy nie-so-slim broer Dewaldt, en sy veerpoothoender Knoop, wat hom van die dood geleer het en die pyn en vernedering van tiener-wees.

“Dit is ʼn stuk wat tot almal spreek, want almal van ons het ʼn ma of het ʼn ma gehad. Dit is ʼn menslike storie oor verhoudings en liefde met ʼn kinkel. Dit is ook nie net hartseer nie, daar is baie humor ook. Hoewel dit alles fiksie is, is daar ook baie persoonlike raakpunte vir my.”

Dit is ʼn drama waar die lag en die traan baie na aan mekaar loop: Die band tussen ʼn ma en haar kind, hulle lewensreis saam, die pyn en onvermydelikheid van oudword en hoe ons soms ons grootste foute verdedig, omdat dit uit liefde gedoen is.

Hannes van Wyk in ‘Sê groete vir Ma’. (Foto: Verskaf)

“Wat my verbaas het met die uitvoerings wat ek reeds gehad het, is hoe baie mans en jong mense na die stuk kom kyk. Dit is regtig geskik vir elke lid van die gesin,” sê hy.

Van Wyk bieg dat die opname van die stuk, sonder ʼn gehoor, een van die uitdagendste projekte was wat hy al aangepak het.

“Eerstens het jy nie die reaksie en meelewing van die gehoor nie, maar ook omdat ek dit anders wou skiet en nie net die gewone nie. Daar word deesdae so baie gestroom en ek wou dit so ʼn bietjie anders doen. Ons het dit in ʼn pakhuis geskiet en baie met beligting gewerk. Ek praat ook gereeld in die kamera met die kykers sodat hulle voel hulle is regtig deel van die produksie.”

Sê groete vir Ma se teks is uit die pen van Desiré Gardner, ook ʼn aktrise bekend vir haar rolle in sepies soos Binnelanders en Suidooster. Die ikoniese aktrise en regisseur Sandra Prinsloo behartig die regie.

“Dit was die eerste keer wat ek en Sandra só nou saamgewerk het. Dit was ʼn plesier en ons het baie gelag. Sy ken die ervaring van eenmanvertonings net so goed en hoe om dit teatermatig te maak. Desiré se teks is só goed geskryf dat ons kon aandag gee aan die toneelspel en die subteks. Dit was dus vir my ʼn wonderlike ervaring om saam met haar te werk. Ek glo sy sê dieselfde.”

Sê groete vir Ma is vanaf Dinsdag 1 Desember om 09:00 tot Sondag 6 Desember om 23:45 aanlyn te sien. Kaartjies kos R110 en is hier beskikbaar.

Kyk hier na die lokprent vir die vertoning:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.