‘Hans steek die Rubicon oor’ is ʼn teatertreffer

Charlie Bouguenon is te sien in die teaterweergawe van ‘Hans steek die Rubicon oor’. (Foto: Verskaf)

Wat ʼn aangename verrassing het op my gewag toe ek onlangs na die teateraanbieding van Rudie van Rensburg se immergewilde komedie, Hans steek die Rubicon oor, gekyk het.

Die teks is in ʼn eenpersoonstuk verwerk met ʼn knap vertolking deur Charlie Bougeunon. Hy gee nie net aan die 90-jarige Hans van Kraaienburg lewe op die verhoog nie, maar ook aan nog 15 ander karakters.

Met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) wat eersdaags in Oudtshoorn afskop, wag ʼn keur van teaterproduksies op feesgangers, maar dit kan weliswaar ʼn moeilike besluit wees om te kies waarvoor jy kaartjies moet koop.

Ek het terstond ná die vertoning vir Charlie nader gewink om te hoor of hy die teks net soveel soos teatergangers geniet. In kort, hy beleef ʼn partytjie wanneer hy op die verhoog is.

“Dit is soveel pret om hierdie stuk te doen, en wat amper nog lekkerder is, is om te ervaar hoe die gehore dit saam met my geniet. Veral wanneer ek sien dat mense ná die vertoning die teater met ʼn huppel in hulle stap verlaat.”

Hans steek die Rubicon oor is nie ʼn onbekende verhaal nie. Met vier boeke wat reeds verskyn het, en ʼn vyfde een wat op pad is, het lesers hulle al goed in Hans en sy vriende se manewales verlustig. Dan is daar ook die voorlesing wat deur Tobie Cronje opgeneem en tot groot vreugde van RSG-luisteraars uitgesaai is.

Net om die storie in ʼn neutedop saam te vat: Hans steek die Rubicon oor vertel hoe Hans se lewe omvergewerp word wanneer sy kinders hom noodgedwonge na die Huis Madeliefie-ouetehuis toe laat trek. Dit is ʼn groot ontnugtering wanneer Hans besef hoe verkramp Huis Madeliefie is en dat hy nou ʼn piepklein kamertjie sy huis noem. Vet op die vuur is die string reëls en regulasies wat Hans en sy mede-inwoners moet gehoorsaam.

Charlie Bouguenon is te sien in die teaterweergawe van ‘Hans steek die Rubicon oor’. (Foto: Verskaf)

Saam met Lizz Meiring as regisseur en Jak J Brits as verhoogbestuurder, is die teks in ʼn eenpersoonstuk omskep wat oud en jonk sal laat skater.

“Die storie kan by tye eintlik bietjie belaglik wees,” sê Charlie spottend. “Ek meen, dit gaan oor hierdie 90-jarige omies wat die vreemdste avonture beleef, maar ons het juis besluit om in dit in te speel. Wanneer die situasie verregaande raak, dan beweeg ons saam met die golf.”

Charlie beweeg moeiteloos tussen karakters en sit veral oemf in Hans se mede-inwoners van Huis Madeliefie – iets wat hy met stemtoonverandering en maniërismes regkry.

“Die jongspan geniet op ʼn eenvoudige vlak hierdie verskillende karakters, terwyl ouer gehoorlede die taal waardeer. Ons het besluit om oom Hans se gebruik van Afrikaans te hou.

“Ander mense ervaar weer saam met Hans die ding van kinders wat oorsee is. Hulle kleinkinders word ook dalk nie as Suid-Afrikaners grootgemaak nie, maar as Britte of Amerikaners. Ek kan dink dit gee vir die ouer garde ʼn stem oor dit wat hulle self ervaar.”

Om Hans se karakter te bemeester was wel nié so maklik nie, erken Charlie. “Dit was nogal ʼn groot uitdaging omdat ek in Junie self eers 40 word. Ek is eintlik nog veels te jonk, maar ek het soos dit enige akteur betaam my navorsing en voorbereiding deeglik gedoen.”

Oor wat presies hierdie uitdagings behels, sê Charlie, dit het oor die fisieke vertolking gegaan. “Ek sien wat dit is om in die lyf van ʼn ouer karakter te klim. Ek speel die heeltyd in ʼn kontraksie, want ek moet die gewig van die ouderdom ervaar.”

Die gewildheid van die Hans-komediereeks sou moontlik dalk ʼn bietjie oorweldigend kon wees, maar Charlie het nie toegelaat dat dit hom beïnvloed nie.

“Ek weet dit is ʼn topverkoperreeks en luisteraars was gaande oor Tobie se voorlesing, maar Rudie is dol oor die stuk en dit is vir my ʼn groot pluimpie dat die skrywer tevrede is.”

Charlie Bouguenon is te sien in die teaterweergawe van ‘Hans steek die Rubicon oor’. (Foto: Verskaf)

Hans gee Herklaas horings, die tweede boek in die reeks, is reeds in proses om vir die verhoog verwerk te word. Dié stuk debuteer later vanjaar by die Innibos Kunstefees. Hans steek die Rubicon oor en Hans gee Herklaas horings word deur Leftfoot Theatre Productions op die planke gebring.

Hier is ʼn volledige lys van die Hans steek die Rubicon oor-vertonings wat binnekort plaasvind:

  • 3 April om 13:30 en 4 April om 17:30 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), Oudtshoorn. Kry jou kaartjies op Webtickets.
  • 13 April om 08:30 by die Oppiwater Kunstefees, MSC Orchestra. Kry jou kaartjies op LTickets.
  • 15 April om 18:00 en 16 April om 12:00 by Die Koelkamers Teater, Paternoster. Kry jou kaartjies op Die Koelkamers se webwerf.
  • 19 tot 22 April om 20:30 en 23 April om 14:00 by Die Boer, Durbanville. Kry jou kaartjies op Die Boer se webwerf.
  • 24 April om 19:30 en 25 April om 19:30 by The Drama Factory, Somerset Wes. Kry jou kaartjies op The Drama Factory se webwerf.
  • 30 April om 12:00 en 15:00 by die Hermanus Ouditorium. Kry jou kaartjies op Computicket.
  • 3 Mei om 12:00 en 19:00 by die Jeffreysbaai NG Kerk. Kaartjies is by JBay Academy Equinox beskikbaar. Stuur ʼn e-pos na [email protected] om meer te wete te kom.
  • 4 Mei by KREATIEF Burgersdorp. Besoek KREATIEF se Facebook-blad vir meer besonderhede.

Let wel: Kaartjiepryse en tye van vertonings is onderworpe aan verandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.