Jong teatermaker woeker by Pronk Podium

“As die sinkdakke kon skree” het as wenproduksie by Pronk Podium weggestap. (Foto: verskaf)

Toe Robert Kruger destyds as hoërskoolleerder sy hart op tienertoneel verloor het, het hy nimmer as te nooit verwag dat hy as 22-jarige nie net ʼn bekroonde skrywer sou wees nie, maar skouers sou skuur met die einste mense wat hom jare gelede geïnspireer het.

Robert se besige skrywerspen en liefde vir stories vertel het een na die ander toneelprys laat inrol by vanjaar se Pronk Podium-toneelfees, Aardklop se toneelkompetisie vir jong teatermakers.

Die eindronde van dié fees, wat uit ses toneelstukke bestaan het, het op 2 September by die AfriForum Teater in Pretoria plaasgevind. Drie uit die ses topproduksies het uit Robert se pen verskyn.

“Die fees was ʼn ongelooflike ervaring. Die kinders het hul harte uitgespeel, alles het so onwerklik gevoel,” het Robert aan Maroela Media gesê.

Connor McGuill en Rico Immelman in “As die sinkdakke kon skree”. (Foto: verskaf)

Dit was ook sy As die sinkdakke kon skree, ʼn intieme verhaal oor ʼn jong meisie wat in ʼn klein gemeenskap verkrag word, wat as algehele wenner uitgetree het. Dié stuk, opgevoer deur Hoërskool Noordheuwel, het ook die beste akteur van die kompetisie, 18-jarige Connor McGuill opgelewer. Hy was saam met Die Gelofte se Rico Immelman (16) in die produksie te siene.

Hoërskool Noordheuwel se Iscariot en die Hoër Afrikaanse Seunsskool se In die doderyk van drake, albei geskryf deur Robert, was ook tydens die nasionale eindronde van Pronk Podium op die planke.

Robert Kruger. (Foto: verskaf)

Robert het sy eerste toneelstuk, Die brug na die sterre, in 2019 vir sy alma mater, Hoërskool Noordheuwel, geskryf. Hy was maar pas klaar met matriek, en bieg dat as dit nie vir dié skool se kultuurhoof, Mariki de Villiers-Knop, was nie, sou hy nie so maklik die waters van die teaterbedryf kon toets nie.

Sedertdien het Robert tientalle wenproduksies vir skole soos Hoërskool

Noordheuwel, Laerskool Rodekrans, die Afrikaanse Hoër Seunskool en

Hoërskool Bellville geskryf.

“Ek het nie eers geweet dat dit is wat ek wou doen nie. Ek het goed gedoen met kreatiewe skryfwerk op skool, maar nou nie so goed dat ek gedink het dat dit my loopbaan sou word nie.”

As 14-jarige hoërskoolseun, het hy na ʼn tienertoneelproduksie geskryf deur Pierre-André Viviers gesit en kyk. Dit het die inspirasie laat oorborrel, erken Robert, en hy is vandag trots om te kan sê dat Pierre-André een van sy grootste mentors geword het.

“Dit is ongelooflik om te kan dink dat die mense na wie ek al hierdie jare opgekyk het, nou my mentors en raadgewers is.”

Hy het nog altyd ʼn liefde vir stories gekoester, sê Robert, alhoewel hy tydens sy skoolloopbaan maar ʼn kind was wat sy hand vir byna alles opgesteek het.

Om rolprente en reekse te kyk en ontleed, was egter een van sy stokperdjies.

“Ek het altyd gaan kyk na wie die regisseur en skrywer van die fliek was, hoe lank hulle geskiet het … ek het selfs die musiek ontleed.”

Dit is juis in musiek, en in spesifieke lirieke, waaruit die meeste van Robert se inspirasie spruit.

Robert het ook vanjaar se wenproduksies vir Pronk Digitaal en Pronk Pret, Aardklop se twee kategorieë vir digitale- en laerskooltoneelspel, geskryf. As die sinkdakke kon skree, waarvan hy ook die regie behartig het, sal ook binnekort by die FAK Allegretto-toneelfees by die Voortrekkermonument in Pretoria op die planke wees. Dit is ook een van die topagtproduksies wat by die finale ronde van ATKV Tienertoneel sal verskyn.

Dié jong, bekroonde skrywer hoop om volgende professionele teater aan te pak.

“Met kinder- en tienertoneel word ek in ʼn mate ingeperk in terme van die temas wat ek kan aanspreek,” sê Robert.

“Ek probeer reeds die grense verbreed met my toneelstukke, maar ek sal graag ʼn toneelstuk vir volwasse, professionele akteurs ook wil skryf.”

  • As die sinkdakke kon skree sal tydens vanjaar se Momentum Beleggings Aardklop in Potchefstroom te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.