‘Komiese huweliksberading’ in ‘Groet die Grotman 2’

Phillru van Achterbergh as Grotman in ‘Groet die Grotman 2’. (Foto: Verskaf)

Die akteur Phillru van Achterbergh is vandeesweek in die Pretoriase Staatsteater te sien in die rol van die alombekende grotman in die teaterproduksie Groet die Grotman 2.

Groet die Grotman is al dekades lank ʼn gewilde produksie onder teaterliefhebbers en het aanvanklik begin met die gesoute akteur en regisseur Hannes Müller in die rol van Grotman.

Nou is Van Achterbergh op die verhoog in dié rol. Dit is 20 jaar later en Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud – of is hulle?

Die kinders is tieners met uitdagings van hul eie en Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, e-posse, iPhones, Facebook, Twitter en aanlyn konserte.

In Groet die Grotman 2 word die verskille tussen mans en vrouens steeds op ʼn komiese wyse uitgebeeld.

Volgens Grotman is vroue is steeds die gaarders, veral van nuttelose inligting, en mans die jagters, van ʼn bok tot ʼn televisieprogram.

“Mans en vroue lag vir mekaar in Groet die Grotman 2 en dis juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak,” sê skrywer en regisseur Frans Swart.

“’n Mens kan amper sê ons doen huweliksberading op ʼn komiese wyse. Die feit dat Grotman sy wêreldjie moet groter maak om by Elize se wêreld aan te pas en die feit dat Elize haar oop wêreld so bietjie nouer moet maak om by Grotman se wêreld uit te kom, sorg vir baie komiese situasies.”

Die oorspronklike Groet die Grotman hou steeds die rekord vir die Afrikaanse teaterproduksie wat die meeste vertonings oor die langste tydperk gehad het met meer as 1 000 vertonings oor 10 jaar.

Lefra het egter die Grotman vir agt jaar laat rus in sy grot voordat hy in 2018 na die planke teruggekeer het. Wynand van Vollenstee het toe dié rol vertolk.

Phillru van Achterbergh as Grotman in ‘Groet die Grotman 2’. (Foto: Verskaf)

Van Achterbergh, wat nou in die gesogte rol te sien is, het drama en film aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie studeer en word in 2012 die eerste student wat al drie die toptoekennings van TUT ingeoes het as beste dramastudent.

Nadat hy die universiteit verlaat het, het Van Achterbergh sy buiging op die professionele verhoog gemaak met rolle in die kinderproduksie Liewe Heksie en hy het ook in die Lefra Produksies-klug My vrou se man se lyk se tas verskyn.

Hy het ook in die klugte My boetie se boetie se baba en Daa’ gaat die bruid verskyn en het as assistentregisseur opgetree vir My man se skelmpie se skelmpie se vrou.

Van Achterbergh het die rol van Clint Erasmus, ʼn dwelmsmous, in die kykNET-sepie Binnelanders vertolk. Hy is in 2016 benoem vir ʼn Naledi-teatertoekenning vir sy rol as André Myburgh in die produksie Porselein en het ook as Benjamin Komoetie in die verhoogproduksie van Fiela se kind sy staal as akteur gewys.

Groet die Grotman 2 is van 7 tot 12 Desember in die Pretoriase Staatsteater te sien. Kaartjies is beskikbaar by www.LTickets.co.za, www.webtickets.co.za, of (011) 815 3000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Ja dis mos altyd die man wat verkeerd is omdat hy nie soos ‘n vrou optree nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.