Kuier aanlyn saam met Marion Holm

Backstage met Marion. (Foto: Verskaf.)

Die geliefde Afrikaanse aktrise Marion Holm is vandeesweek aanlyn te sien in Backstage met Marion, ʼn vertoning wat by Die Boer-teater opgeneem is.

“In plaas daarvan om ʼn vertoning te doen waar ek optree asof daar ʼn gehoor is, het ek besluit om te maak asof ek deur die gehoor stap ná afloop van ʼn show en met die mense gesels,” verduidelik Holm die konsep van die konsert.

“Dit is nie iets wat ek sommer net in my huis opgeneem het nie. Dit is ʼn volledige, professionele produksie.”

Sy vertel sy wou die vertoning juis meer intiem maak omdat dit opgeneem is. “Ek vertel stories uit vorige vertonings wat in ʼn nuwe volgorde bymekaargesit is. Ek gesels oor die alledaagse lewe en omdat mense hulle daarmee kan vereenselwig, geniet hulle dit,” voeg sy by.

Die veteraanaktrise gee toe dat dit moeilik was om sonder ʼn gehoor die vertoning aan te pak. “Ek werk met ʼn gehoor en my hele vertoning is geskoei daarop dat die gehoor reageer en ek dan weer op hulle reageer. Sonder ʼn gehoor was dit ʼn baie groot uitdaging en ʼn mens moet ʼn hele kopskuif maak.”

Backstage met Marion vorm deel van Die Boer se reeks aanlyn konserte wat onlangs op die splinternuwe digitale platform, Die Boer by die Huis, afgeskop is deur die musikant en skrywer Koos Kombuis.

Margit Meyer-Rodenbeck, ook bekend as Dowwe Dolla, is aan die stuur van Die Boer-teater, wat in Durbanville in die Wes-Kaap geleë is.

“Daar was ʼn hele span mense betrokke by die vervaardiging van die produksie. Ek is Margit ewig dankbaar – as hulle my nie genader het oor ʼn konsert nie, het ek nou nog gesit en dink wat om te doen,” sê Holm.

Kunstenaars soos Sandra Prinsloo, Valiant Swart, Gian Groen, Bottomless Coffee Band, Dowwe Dolla en Wikus van der Merwe is ook binnekort op Die Boer by die Huis te sien.

“Mense wat ʼn kaartjie sou koop om my vertoning by ʼn fees by te woon, kan nou ʼn kaartjie vir my aanlyn vertoning koop.”

Backstage met Marion is Donderdag 18 Junie om 18:00 te sien. Die vertoning is beskikbaar vir kaartjiehouers tot Dinsdag 23 Junie.

Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.