‘Kunstefeeste is lewensaar van teater’ sê Gideon Lombard

Gideon Lombard en Emma Kotze in “Goed wat wag om te gebeur”. (Foto: Pieter Lombaard/verskaf)

Alhoewel Gideon Lombard sewe jaar gelede reeds in die Engelse weergawe van die teaterstuk, Goed wat wag om te gebeur, te sien was, beskou hy dit nogtans as ʼn nuwe projek en uitdaging. Daar is immers min dinge wat soveel kulturele diepte inhou soos ʼn moedertaal.

Gideon is saam met Antoinette Kellermann, ʼn doyenne van die teater, en Emma Kotze in Goed wat wag om te gebeur by die Momentum Beleggings Aardklop in Potchefstroom op die planke. Philip Rademeyer het die regie en teks behartig, asook dié van die destydse Engelse weergawe, The Graveyard.

In hierdie hoendervel-produksie word teatergangers se hartsnare stadig maar seker saam met dié van die akteurs los getorring. Die gehoor worstel saam deur die diep, taai moddergemors wat gesinsgeweld in ʼn huishouding agterlaat.

Daar is diepte in elke lettergreep, klinker en konsonant wat op die verhoog geuiter word, en dit moet so wees, sê Gideon. Daar is mag in ʼn taal en hoe jy hom uit jou mond spoeg, en dit is juis hoe hy die teks  aangepak het.

“As jy op ʼn tegniese en poëtiese manier daarna kyk, lê die betekenis in hoe jy die klinkers en konsonante behandel. Ek het myself afgevra: ‘Hoe kan ek hierdie taal gebruik om emosies binne Afrikaans te verken?’” het hy aan Maroela Media verduidelik.

“Afrikaans is eintlik hierdie enorme gereedskapskis.”

(Foto: Pieter Lombaard/verskaf)

Die teaterstuk handel oor ʼn man wat jare nadat hy sy ouerhuis verlaat het, daarheen terugkeer. Die gehoor verken saam met hom sy grootwordjare terwyl hy in sy siel krap om rou wonde van onversoende gesinsverhoudings ontbloot.

Daar lê ʼn magiese verantwoordelikheid geberg in dié tema, sê Gideon. Hy worstel deurlopend daarmee om die storie op ʼn verantwoordelike en akkurate manier te vertel. Daar sit immers mense in die gehoor wat ʼn diep verbintenis met die karakters en storielyn sal vorm.

“Met iets soos hierdie – verslawing, geslagsgeweld en alkoholisme – is dit van groot belang om dit akkuraat uit te beeld. Jy moet jou navorsing deeglik doen; dit is dinge waarmee talle mense in die samelewing worstel.

“Ons het deurlopend probeer om eerlik te wees met mekaar oor hoe dinge in die werklikheid gebeur. Ons het onsself bly afvra: ‘Behandel ons die tema met respek en deernis?’”

Vir kunstefeeste, soos Aardklop, vloei Gideon se beker van dankbaarheid oor. Dit is immers “die lewensaar van teater”, sê hy. Aardklop veral, sê hy, bied ʼn stimulerende en opwindende samestelling van kuns, musiek en teater.

“As dit nie vir kunstefeeste was nie, het ons nie gehad wat ons het nie. Die feit dat daar ʼn struktuur aan feeste deur die loop van die jaar is, beteken dit dat kunstenaars regdeur die jaar werk sal hê.

“As dit nie vir feeste was nie, was daar nie vaste grond onder ons voete nie.”

  • Koop jou kaartjies vir Goed wat wag om te gebeur hier.
  • Vir meer inligting oor die Momentum Beleggings Aardklop 2023, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.