Liewe Heksie rolskaats Aardklop toe

Margit Meyer-Rödenbeck as Liewe Heksie. (Foto: Verskaf)

Verna Vels se geliefde fiktiewe karakter Liewe Heksie klim vanjaar op haar besem om die land te verken en het besluit om ʼn draai by Momentum Beleggings Aardklop te maak vir drie kleurryke kinderteatervertonings.

Margit Meyer-Rödenbeck klim in dié bekende karakter se skoene vir Liewe Heksie en die rolskaatse wat op 7, 8 en 9 Oktober by die kykNET Laerskool Louw Geldenhuys-skoolsaal in Linden, Johannesburg, aangebied word.

Die uiters talentvolle Deon van Zyl draf ook die rolle van Karel Kat, Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf.

Liewe Heksie is ʼn karakter wat Meyer-Rödenbeck ook baie na aan die hart lê. (Foto: Verskaf)

Levinia het bietjie vergeet van verjaarsdae en daarom vier sy haar “eerste” verjaarsdag vanjaar sommer ʼn paar keer in dié vertonings, kompleet met haar presente, “biki-kini” én rolskaatse. Maar ai, die groot grillerige Geelheks probeer Heksie se vieringe in die (rolskaats)wiele ry.

Dié unieke vertonings beloof om klein én groot kaboutervriende van “Menseland” te boei danksy prettige gehoordeelname en voortsnellende aksie.

“Ons het hierdie produksie tien jaar gelede gedoen. Ons het toe ook landwyd ʼn hele paar keer opgetree, en dit is steeds heerlik,” het Meyer-Rödenbeck vroeër aan Maroela Media oor dié KKNK Kanna-bekroonde produksie gesê.

Liewe Heksie is ʼn karakter wat Meyer-Rödenbeck ook baie na aan die hart lê.

“Verna Vels het ʼn juweel van ʼn karakter geskep. Nie net Heksie nie, ander karakters ook. Sy het die spyker absoluut op die kop geslaan, en was haar tyd ver vooruit. Heksie is humoristies. Haar vergeetagtigheid maak haar geliefd en menslik, kinders kan hulle identifiseer daarmee.”

Koop vandag nog jou kaartjies vir Liewe Heksie en die rolskaatse:

  • Venue:kykNET Laerskool Louw Geldenhuys-skoolsaal, Linden, Johannesburg.
    Datum en tyd: 7 Oktober 15:00, 8 Oktober 12:00, 9 Oktober 12:00
    Kaartjies beloop R120 en is beskikbaar by: ticketpros.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.