Marion Holm rou en eerlik op KKNK-verhoog

Marion Holm is ʼn bekende gesig op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en vanjaar maak sy weer ʼn draai op dié verhoog waar sy die stories waarvoor sy die liefste is en oor hoe sy die lewe sien aan gehore gaan vertel.

“Dit is stories oor wat al met my gebeur het, wat met ander mense gebeur het en dit wat ek sien van die alledaagse lewe,” vertel Holm.

Holm sê sy probeer in dié produksie so eerlik moontlik wees, omdat dit die dapperste ding is wat ʼn mens kan doen.

“Wanneer ʼn mens eerlik is staan jy die kans om verskriklik seer te kry, want dan gee jy vir iemand anders die mag om jou te vertrap. Hierdie produksie het geen foefies nie en geen spesiale naam nie. Dit is net Marion Holm, dit is net wie ek is,” sê sy.

Holm sê sy en haar medeskrywer, Chris Vorster, het die produksie ook so beplan, dat dit gestroop is van alle ekstras. “Daar is niks nie, dit is net ek op die verhoog,” sê sy.

Holm sê stories en storievertel is die manier waarop sy die lewe sien, en sy skryf dit toe aan ʼn ma wat van Namakwaland af kom, en ʼn pa met ʼn liefde vir literatuur.

“Stories is in my bloed. Ek maak stories bymekaar soos die jaar verloop, en ek skryf dit neer waar ek ook al is. Van kleins af is dit hoe ek na die wêreld kyk. Ek kan lekker lag vir stories en ander mense kan weer lekker lag vir my stories.

“Stories is aan die einde van die dag die middelpunt van enige skeppende kuns, of dit nou teater, ballet of opera is,” sê sy.

Holm vertel dat sy en Vorster saam aan die teks geskryf het. Hy het haar stories geneem en dit aangepas tot ʼn produksie.

Sy sê sy is opgewonde om weer alleen op die verhoog te wees, aangesien sy reeds tientalle solostukke gedoen het.

“Al is dit nou al baie solostukke later, is dit nog steeds moeilik om alleen op die verhoog te wees. Daar is niemand om jou te help as iets skeef loop nie. As jy alleen is, moet jy alles self doen. So dit is angswekkend, maar dit is opwindend. Jy rol maar met die omstandighede wat ʼn solostuk na die tafel bring,” sê sy.

Marion Holm is van 24 tot 26 Maart op die KKNK te sien. Vir meer inligting besoek haar Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.