Nuweling-dramaturge maak debuut by Kaapse fees

Jane Mpholo (Foto: Verskaf)

Vyf dramas deur jong, opkomende skrywers wat aan die fees se NATi Jong Sterre-ontwikkelingsprojek deelgeneem het, debuteer by vanjaar se Suidoosterfees wat van 27 April tot 1 Mei by Kunstekaap in Kaapstad aangebied word.

Maroela Media het vroeër berig dat Henque Heymans, Jane Mpholo, Heloine Armstrong, Melissa Myburgh en Stephren Saayman die derde groep jong skrywers is wat aan dié ontwikkelingsprojek deelneem.

Produksies deur die skrywers ondersoek verskeie temas wat by Suid-Afrikaners byval sal vind, veral oor verhoudings en identiteit.

Saayman se klug, Dankie, maar nee dankie!, is op die planke met Charlene le Roux, Liandé Valentyn, Chad Abrahams, Meggan Johnstone, Marunzo Thomas en Enrico Hartzenberg in die rolverdeling. Die stuk steek die draak met die idee van wat dit beteken om “perfekte coloureds” in ʼn “perfekte Suid-Afrika” te wees. Drie gesinne van ʼn verlate dorpie neem aan ʼn kompetisie deel wat stereotipes oor bruin mense probeer aanpak.

Maanskyn en dorings is Armstrong se poëtiese dansdrama wat handel oor ʼn dogter wat gedwing word om die brokstukke van haar ma se hartseer op te tel. Die drama is op ware gebeure gegrond, en word beskryf as “ʼn bittersoet verkenning van die werklikheid van geestesongesteldheid, vrouwees en menswees”. Jill Levenberg en Lynette du Plessis speel daarin.

Met liefde, Vincent deur Myburgh gaan oor ʼn kunstenaar wat die handdoek wil ingooi omdat niemand sy werk wil koop nie – totdat Vincent van Gogh aan hom verskyn. Tinarie van Wyk Loots en Ben Albertyn is te sien in dié absurde tragikomedie waarin die stereotipe van die “lydende kunstenaar” kafgedraf word.

Heymans se Oom Bey, my pa fokus op die verhouding tussen Beyers Naudé, een van die grootste Afrikanerhelde van die vryheidstryd, en sy dogter Liesel. Ira Blanckenberg en Robert Hindley, wat groot naam vir homself in Valsrivier gemaak het, speel in dié drama. Die dilemma waarmee Naudé gestoei het, naamlik of hy gehoorsaam aan God of aan sy mense moes wees, vorm die agtergrond waarteen gebeure afspeel.

Mpholo se The Dawn is ʼn interdissiplinêre teaterproduksie wat deur die oë van ʼn jong meisie op geslagsgebaseerde geweld fokus. Gewortel in ʼn geesteswêreld en aangedryf deur die verhouding met haar voorouers, onderneem die meisie ʼn reis na genesing. Dié drama, met Mpholo, Boitumelo Mohutsioa, John Paka, Nomathemba Magobodi en Tsepo Bondo, ontplooi in poësie, musiek en fisieke teater.

Al vyf dramaturge het onder die mentorskap van Abduragman Adams drie weke lank in Somerset-Oos in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet-skrywershuis gebly om aan die produksies te werk.

Kaartjies vir die NATi Jong Sterre-produksies kos R100. Die volledige feesprogram is op die Suidoosterfees se webwerf beskikbaar en kaartjies is by Computicket te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.