PG se bekroonde Siener weer op die radio

PG du Plessis. Foto: Esté Meyer Jansen

PG du Plessis. Foto: Esté Meyer Jansen

PG du Plessis se Hertzog-bekroonde drama, Siener in die Suburbs, word weer op radio uitgesaai ter viering van Du Plessis se 80ste verjaardag vroeër vanjaar.

Dié radioverwerking deur Robert Young is reeds in 1992 opgeneem en uitgesaai en word nou weer op Donderdag 4 Desember om 20:00 in RSG se program, Radioteater, uitgesaai.

Young se verwerking van die ikoniese storie is in 1993 vir drie Radio Artes-pryse benoem: Trix Pienaar is as beste aktrise, André Rossouw as beste akteur en wyle Joey de Koker as beste regisseur. De Koker is in Junie vanjaar in die ouderdom van 82 oorlede.

Ander spelers sluit Gretha Brazelle, George Ballot, Nico de Beer, Christo Gerlach en Isabella Mostert in.

Siener in die suburbs speel af in ‘n armoedige suidelike voorstad van Johannesburg. Jakes is die “zef” ou wat ‘n ma soek vir sy laaitie. Tiemie, die ma, wil egter niks hiervan weet nie. Sy wil wegkom uit die “suburbs”, met ‘n ryk man trou en “van geweet wees”. Haar broer, Tjokkie is die siener wat onder meer “sien” hoe ‘n ander man as Jakes haar swanger maak. Natuurlik met rampspoedige gevolge…

Luister Donderdag 4 Desember om 20:00 na Siener in die Suburbs op RSG (100 tot 104 FM). Die radiodrama word ook Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Maroela Media het vroeër vanjaar ʼn draai by Du Plessis op sy plaas gaan maak waar ons met hom onder meer oor Siener in die Suburbs gesels het. Kyk gerus die video hieronder.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.