[Resensie] Een groot ‘geworry’

'n Geworry met Wilson Dunster en Elize Cawood (Foto: Facebook)

‘n Geworry met Wilson Dunster en Elize Cawood (Foto: Facebook)

Sommige mense leef hul hele lewe vir ʼn enkele oomblik – dáái oomblik wanneer hy of sy vir die laaste keer die kantoordeur agter hulle toetrek. Hul bestaan word oorskadu deur ʼn geworry oor kinders en skoolgeld en aftreegeld. En wanneer die dag aanbreek, glo hulle met oorgawe die saligheid lê en wag. 40 jaar van werk én getroude lewe, brei jou immers vir aftree, “jy leer oorleef”. Maar daardie oomblik breek nóóit aan nie, of so dink die skrywer van ʼn Geworry.

Saligheid en rustigheid, veral met betrekking tot jou kinders, is ʼn gejaag na wind. Dié soort bekommernis gaan lê nooit nie; nie wanneer die gespuis hulself kan voer nie en ook nie wanneer hulle hulself móét voer nie.

Selfs wanneer “jou ouderdom klink soos iets wat die Proteas deesdae regkry”, is daar geen stop aan die geworry-trein nie.

Wilson Dunster en Elize Cawood tree sedert 2005 op in hul eie tweeman-verhoogproduksies. Die akteurspaar pak egter in dié stuk ʼn drama, in plaas van hul gewilde komedies soos Dinner for one en Dinner for two, aan. Die dialoog is geskryf deur Saartjie Botha.

ʼn Geworry vertel die storie van ʼn afgetrede paartjie, David en Coba. Nes hulle dink hul bekommernisse oor kinders en dié se skoolbyeenkomste en matriekafskeid en sakgeld kan ter ruste gelê word omdat die kinders volwasse is en hulle afgetree is, tree die werklikheid in: om volwasse kinders te hê, beteken dikwels ʼn gróter geworry as om al die kuikens onder een dak te hê.

Coba raak op ʼn dag moeg om by die huis te sit en sy en David besluit hulle gaan Londen toe om uit die roetine te breek. David gaan ʼn halfbroer soek van wie hy onlangs uitgevind het en Coba gaan “shop” – dis nou voordat sy besef “jy koop twee pies en ʼn bier, dan moet jy skuldberading kry”.

Teatergangers sal veral aanklank vind by die universele tema. Ouers, soos David en Coba daarna verwys, is konstant “gespannerig” oor hul kinders – ʼn tipe spanning wat geen geld kan laat verdwyn nie.

Die stuk, wat as’t ware ouers se perspektief op hul volwasse kinders is, is propvol komiese oomblikke wat die teaterganger se tone laat krul van die lag, maar jou enkele oomblikke later laat wroeg met ʼn gewetensvraag. Moet ʼn ouer sy kind keer wanneer hy sien dat hy besig is om ʼn fout te maak? Hoeveel inmenging is aanvaarbaar? Hou die rol van “ouer-wees” ooit werklik op?

Nie volgens dié stuk nie. Want selfs al het ʼn ouer nie meer die reg om amper baasspelerig op te tree teenoor sy kind nie, doen hy dit in sy hart omdat dit ʼn lewenstaak is.

ʼn Ouer mág ook nie vir ʼn oomblik ophou worry nie, omdat hy of sy dalk iets belangriks kan mis – iets soos ʼn diep hartseer of bedroefdheid in jou kind se oë, nes in die stuk.

Wilson en Elize se toneelspel is puik. Hulle is oortuigend en geloofwaardig. Die gehoor snak drie of vier keer hardop na hul asems en die akteurs slaag daarin om die hele saal met ʼn spesifieke atmosfeer te vul.

Die manier waarop die produksie ingedeel is, waarin hulle eers met die gehoor praat, dan ʼn gesprek voer in die hotelkamer en dan weer met die gehoor praat, laat die teaterganger toe om die storie jou eie te maak. Daar is genoeg tyd om sin te maak van dit wat gesê word en die stuk se uitleg is eenvoudig genoeg sodat teatergangers die universele tema kan verstaan.

Ook die verhoog is noemenswaardig. Hoewel daar ʼn paar interessante rekwisiete is, onder meer byna deursigtige hangers waarop klere hang en iets wat met ʼn slag uit die dak val, is dit veral die akteurs se vermoë om ʼn beeld te skep wat beïndruk. Hulle maak byvoorbeeld asof hulle in ʼn vliegtuig sit en die bagasie laai en die geloofwaardigheid van hul spel skep die perfekte beeld.

Die stuk het ʼn relatiewe oop einde. Teatergangers moet self besluit oor “die selfsugtigheid van ononderhandelde eindes” en wat die gevolg kan wees.

Wilson en Elize het saam al meer as 25 toekennings vir hul werk ontvang en dié stuk kan veral ʼn groot aanspraakmaker op talle teaterpryse wees.

ʼn Geworry is op 7 Oktober om 16:30 en 8 Oktober om 13:00 op die kykNET Gimmies verhoog te sien. Kaartjies kos R120 en is beskikbaar by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Pensioenaris is sekerlik die lelikste woord in die Afrikaanse woordeskat.

Marianne ·

Aaag John please!!!!
Meneer en Mevrou Dunster is twee van my favourite akteurs…. Hulle is GOUD werd.

Waarheid ·

Senior burger sien jy nou hoe betaal ons R240 NET VIR 1VERTOONING! Nee as ek as sburger nie 50+% afslag op alles; verblyf kos en vertonings kry nie vergeet ek gerieflikheids onthalwe van alles.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.