Sandra Prinsloo nog lank nie klaar met teater

Sandra Prinsloo en Dawid Minnaar in “Die moeder”. (Foto: Jeremeo Le Cordeur/verskaf)

Sandra Prinsloo is en was nog altyd iemand wat daarvan gehou het om grense te verbreed – nie net dié van teater nie, maar ook haar eie.

Dié 76-jarige doyenne van die teater is deesdae besiger as ooit. Trouens, sê sy, soms té besig na haar sin. Sy is tans in die teaterstuk, Die moeder, saam met Dawid Minnaar, Ludwig Binge en Ashley de Lange by Momentum Beleggings Aardklop in Potchefstroom te sien.

Die produksie wentel rondom ʼn vrou wat skielik met ʼn leë huis sit nadat haar kinders almal uit die huis getrek het, en ʼn man het wat kom en gaan soos wat sy werk dit vereis. Die verhaal is ʼn blik in die lewe van iemand wat besef dat sy nie eintlik ander belangstellings het nie, en stadig maar seker in die donkerte van haar eie psigiese toestand verdwyn.

Teatergangers beleef saam met haar die verwronge, en dikwels fiktiewe, scenario’s waardeur sy worstel. En dit is presies hoe dit moet wees, sê Sandra, selfs sy weet nie altyd waar haar karakter se grense van werklikheid lê nie.

“Daar is baie vroue in die gehoor wat voel wat sy voel. Miskien nie tot so ʼn mate soos in Die moeder nie, maar so baie vroue het al ná vertonings na my toe gekom om te sê dat die leënessindroom hul eie werklikheid is,” vertel Sandra aan Maroela Media ná een van die vertonings. Sy drink swart rooibostee en erken dat die energie ná só ʼn vertoning maar min is.

Sandra in “Die moeder”. (Foto: Lindsey Appolis/verskaf)

“Hulle ken dit so goed, dit raak hulle diep,” vertel Sandra verder. “Daar het selfs eendag ʼn man na my toe gekom om te sê dat sy eie vrou só is. Hy het so gehuil.”

Wanneer teatergangers met hierdie soort terugvoer by Sandra kom aanklop, weet sy waarom die teater nog altyd haar tuiste was. Teater is immers soos ʼn spieël wat na die gemeenskap wys, sê sy, wanneer produksies mense laat praat en gevoelens ontlok, weet sy dat hulle hul werk reg gedoen het.

Die Moeder vorm deel van ʼn trilogie wat uit die Franse dramaturg, Florian Zeller, se pen verskyn het. Dit is deur Christiaan Olwagen, ook die regisseur van die produksie, verwerk en vertaal. Loki Rothman het die musiekregie van die stuk behartig.

Dit het vroeër vanjaar vir ʼn vollengte speelvlak by die Baxter-teater in Kaapstad gaan draai, ʼn wonderlike geskenk aan die akteurs, sê Sandra.

“ʼn Akteur se ideaal is om voortdurend te verdiep en aan die karakter te skaaf. Wanneer mens vier of vyf optredes elke nou en dan het, kan jy dit nie noodwendig doen nie, want jy ken jou karakter nie goed genoeg nie.

“Dit is soos ʼn kunstenaar wat ʼn beeld maak; jy skaaf bietjie hier weg, voeg bietjie daar by. Hoe langer ʼn paar akteurs ook saam speel, hoe meer gemaklik raak ons met mekaar. As ek stewig staan in die rol, kan enigiemand enigiets op die verhoog doen en ek sal piekfyn wees.”

Sandra erken dat sy deur die jare heen natuurlik na meer uitdagende en diep rolle geneig het. Sy beskryf dit as ʼn ingesteldheid, ʼn behoefte om elke karakter so goed te leer ken dat sy alles oor haar kan antwoord, selfs oor watter kos die karakter sou verkies.

Wanneer sy diep, ingewikkelde en dikwels donker karakters speel, is dit vir haar belangrik om, ná ʼn produksie geëindig het, hierdie einste karakter, wie sy so goed leer ken het, heeltemal af te skud.

“Hulle moet padgee uit my lewe uit; ek moet plek maak vir ander,” skerts sy.

“Ek dink dit is gevaarlik om vas te klou aan karakters of hulle toe te laat om jou te beïnvloed.”

Soms, bieg sy, lê sy snags en rondrol wanneer sy met ʼn nuwe karakter worstel. Dit is juis haar behoefte om alles van hierdie persoon uit te vind, haar sin van verantwoordelikheid teenoor die rouheid van die karakter, wat haar ontstig.

Sy onthou hoe sy ná aan van die eerste vertonings van haar eenvroustuk, Kamphoer, al bewend van die verhoog af gestap het. Sy was ontroer, eintlik ontsteld, tot diep in haar binneste.

“Daar het ek vir myself gesê dat ek dit nie kan toelaat nie, dat dit nie deel van my werk is nie.

“Dit is gevaarlik om in die donker dele van die menslike psige en emosies te delf. Sodra jy dit egter ervaar het, weet jy wat daar aangaan en word dit makliker om dit in die toekoms te gebruik.”

  • Vir meer inligting oor Momentum Beleggings Aardklop en om kaartjies vir enige van die produksies aan te skaf, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.